Soet, toe baie suur vir Suid-Afrika se Brad Binder in Valencia  

Suid-Afrika se Brad Binder in aksie. (Foto: Adrian Dennis / AFP)

Dit sou sowaar die kersie op die koek vir Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) en sy spanmaat, Jack Miller, in Sondag se MotoGP op die Circuit Ricardo Tormo in Valencia, Spanje, gewees het.

Binder, wat tweede in Saterdag se blitsren was, was in Sondag se MotoGP vir sowat tien rondes voor nadat hy vyfde weggespring het.

Boonop het Miller tot tweede agter hom ingeskuif wat die kroon vir die Red Bull-span sou gespan het as hulle só kon eindig.

Maar toe tref die noodlot vir Binder in die 14de ronde toe hy ná ʼn klaarblyklike oordeelsfout van die baan gejaag het en in die langbaan-roete beland het. Dit het hom drie sekondes gekos en sy drome om eerste te eindig, was daarmee heen.

Miller, wat ook in ʼn stadium voor was, het intussen geval en die Red Bull-span se drome om eerste en tweede te eindig, het wreed tot ʼn einde gekom.

Die MotoGP is deur die Italianer Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo) gewen wat met sy oorwinning as vanjaar se wêreldkampioen gekroon is. (Foto: Jose Jordan / AFP)

Die MotoGP is deur die Italianer Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo) gewen wat met sy oorwinning as vanjaar se wêreldkampioen gekroon is.

Sy grootste teenstander, die Spanjaard Jorge Martin (Pramac Ducati), het in die sesde ronde geval en kon nie voortjaag nie. Hy en Marc Marquez (Repsol Honda) het kontak gemaak met Marquez wat hoog deur die lug getrek het en na die mediese sentrum geneem is.

Só is vanjaar se titel op ʼn skinkbord aan Bagnaia besorg.

Brad Binder. (Foto: Facebook)

Bagnaia was eerste, Fabio Di Giannantonio (Gresini Ducati) tweede, Johann Zarco (Pramac Ducati) derde, Binder vierde, Raul Fernandez (RNF Aprilia) vyfde en Alex Marquez (Gresini Ducati) sesde.

Bagnaia, wat ʼn voorsprong van 24 punte bo Martin voor Sondag se wegspring gehad het, het op 467 punte geëindig nadat hy 11 wedrenne in vanjaar se reeks gewen het.

Dit was sy 18de sege in MotoGP en sy 28ste oorwinning in motorfietsrenne.

Martin (428 punte) was tweede, Marco Bezzecchi (Mooney VR46, 329 punte) derde, Binder (290) vierde, Johann Zarco (Prima Pramac Racing, 221) vyfde en Aleix Espargaro (Aprilia Racing, 206) sesde.

Miller het 11de met 163 punte geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kuver ·

Binder het 3de geeindig na Fabio Di Giannantonio gepenaliseer is weens lae banddruk en hy na die 4de plek geval het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.