Soos lammers ter slagting

loftus6

Loftus Versfeld. (Argieffoto.)

Dit was Vrydagaand op Loftus Versfeld die voorland van die Walliese Scarlets toe die Bulls binne 20 minute in dié kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskapsreeks gedoen het wat van hulle verwag is.

Hoewel die vreugdevure heeltemal tereg in Pretoria hoog brand ná die Bulls se wegholsege van 57-12 nadat hulle rustyd met 31-7 voor was, begin daar al hoe meer kopgekrap word oor die reeks.

Die slagting op Loftus het binne 84 sekondes begin toe die vleuel Canan Moodie die Bulls se eerste van nege drieë gedruk het.

Dit het gekom nadat die Scarlets ná die afskop by die eerste losskrum te lank gedraai het om die bal op te pik en ʼn skrum aan die Bulls toegeken is.

Net soos die Bokke se gevierde kombinasies van 1995 en in 1998 was dit weer ʼn geval van 8-9-14 wat die slag geslaan het, dié keer met Elrigh Louw (nr. 8), Zak Burger (nr. 9) en toe Moodie (nr. 14) wat afgerond het.

Die Bulls het nog drie drieë binne ʼn japtrap gedruk en ʼn bonuspunt was binne 20 minute reeds in die sakkie met die Bulls met 24-0 voor.

Die Scarlets, wat die afgelope twee weke in Durban gebly en voorberei het, se gô was behoorlik uit en nou kan elke oorsese span wat op Loftus speel maar weet dat die hoogte bo seevlak nie net oumenspraatjies is nie.

Die Bulls, met vernuftige agterspelers soos Kurt-Lee Arende en Madosh Tambwe aan die spits, het die Scarlets dronk gehardloop.

Voorlangs was die jong haker Johan Grobbelaar, die slot Ruan Nortjé en die flank Marcell Coetzee op hul stukke en het hulle die Scarlets flenters gespeel.

Maar die vraag wat gevra word, is of tuisveldvoordeel nie ʼn te groot rol in die reeks speel nie.

Al die Suid-Afrikaanse spanne het aan die begin van die reeks gesukkel om by die oorsese koue, reënerige toestande en soms sintetiese velde aan te pas.

Nou is die skoen aan die ander voet en met die buitelandse spanne wat weens Sesnasies-verpligtinge sonder hul internasionale spelers moet klaarkom, hel die skaal darem te veel oor na die een kant.

Tuisveldvoordeel behoort meestal ʼn rol te speel. Dit was jare gelede ook so toe Noord-Transvaal op Nuweland of in Kimberley gaan swoeg het … of andersom.

Maar die besoekers moet darem ook ʼn kans staan om ten minste nie net kanonvoer te wees nie, al is dit hoe lekker om hulle te laat betaal.

Punte: Bulls 57 (31): Drieë: Canan Moodie, Marcell Coetzee (2), Cyle Brink, Johan Grobbelaar (2), Elrigh Louw, Ruan Nortjé, Robert Hunt. Doelskoppe: Chris Smith (5), Morné Steyn.

Scarlets 12 (7): Drieë: Sione Kalamafoni, Rob Evans. Doelskop: Rhys Patchell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.