Sou Ingram onder die room van die Wêreldbeker-kolwers kon tel?

Collin Ingram in aksie vir Glamorgan. Foto: Cricinfo.

Met die Proteas wat tydens die eendagreeks teen Sri Lanka kwaai op die kolfwerk van Quinton de Kock en Faf du Plessis staat gemaak het, is dit verblydend om te sien hoe ander spelers lopies in die T20-reeks gekry het.

Reeza Hendricks het sy spelpeil herwin om 139 lopies (wat twee vyftigtalle ingesluit het) teen ’n treftempo van 131.13 te slaan. Dan was Rassie van der Dussen weer eens Meneer Betroubaar: in twee wedstryde het hy 98 lopies teen ’n gemiddeld van 49.00 en ’n treftempo van 132.43 gemoker.

JP Duminy het ook beïndruk met ’n paar warrelwind-beurte in die kitsreekse.

Tog is daar Protea-kolfhoofpyne vóór die Wêreldbeker oor twee maande in Engeland begin.

Aiden Markram kon nie sy uitstekende eersterangse spelpeil – waar hy agtereenvolgende honderdtalle na hartelus vir die Titans geslaan het – na die internasionale verhoog oordra nie. In twee T20-wedstryde het hy net 18 lopies aangeteken.

Hashim Amla is al ’n ruk lank nie op sy beste nie. Die Protea-breier, Ottis Gibson, het gesê dat hy sy Wêreldbeker-span nie volgens ’n speler se reputasie sal kies nie, maar dat die Amla-situasie in diepte bespreek sal word voordat die finale spanlys bekend gemaak sal word.

Die 35-jarige kolwer se pa is ernstig siek en hy het die hele eendag-, sowel as T20-reeks misgeloop om sy familie by te staan.

As daar egter een kolwer is wat die Proteas uit ’n potensiële kolf-verknorsing kon red, dan was dit Collin Ingram.

Die 33-jarige Ingram het weliswaar laas in 2013 vir Suid-Afrika gespeel én hy het in 2015 ’n Kolpak-kontrak met

Reeza Hendricks het sy spelpeil in die afgelope reekse teen Sri Lanka herwin. Foto: GB Jordaan.

Glamorgan onderteken, maar sy kolf flits deesdae baie helder in eendagkrieket.

Hy het pas 47 van 32 balle vir die Delhi Capitals in die Indiese Premierliga geslaan, terwyl hy vroeër in die Pakistanse liga 127* vir die Karachi Kings gemoker het.

Sy spelpeil vir sy Engelse graafskap is ook glad nie te versmaai nie. In 2016 het hy die meeste sesse in die T20 Blast-reeks geslaan, terwyl sy gemiddeld van 61.1 in die eendagreeks die hoogste van enige Glamorgan-speler was.

Ingram was maar ʼn wisselvallige element vir die Proteas en hy is hoegenaamd nie reg bestuur nie. In drie jaar (2010-2013) het hy net ’n rapsie meer as 30 eendagwedstryde vir die span gespeel en nie die geleentheid gehad om sy plek in die kolforde vas te messel nie.

“Toe ek die kolfwerk moes open – nie my gunsteling-posisie nie – het ’n hele paar baie goeie boulers vir my geboul. Dit was ’n deurmekaar tydperk omdat ek in-en-uit die span was. Dit het gevoel asof die bestuur my nie ondersteun het nie,” het Ingram destyds sy Glamorgan-besluit aan Cricinfo verduidelik.

Sy kennis van die Britse blaaie en sy vermoë om vinnig lopies aan te teken, sou van hom ’n geskikte kandidaat gemaak het om die Proteas se middelorde saam met Faf du Plessis te lei.

Maar helaas is sy én AB de Villiers se insluitings net pypdrome.

  • Intussen het Duanne Olivier – wat ook ’n Kolpak-kontrak onderteken het – aangedui dat hy graag internasionale krieket vir Engeland sal wil speel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

J ·

Nope, Ingram het keer op keer bewys dat internationale krieket net daai stappie te veel is, selfde met Levi, Parnell ens.

bolla ·

Stem saam, het genoeg kans gehad. Nie goed genoeg om Proteas te verteenwoordig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.