Span SA skitter by Afrika-spele

Suid-Afrika se swemmers het weer met ’n paar topvertonings vorendag gekom. (Foto: X/Team South Africa)

Suid-Afrika maak die medaljepap sommer dik aan by die 13de weergawe van die Afrika-spele in Ghana.

Die Suid-Afrikaanse sportsterre het reeds 13 keer op die heel boonste trappie van die podium gestaan, terwyl daar ook met 15 silwer- en 22 bronsmedaljes gespog word.

Oudergewoonte is dit in die swembad waar daar die meeste uitgeblink word met Caitlin de Lange, Catherine van Rensburg, Clayton Jimmy, Simone Moll en Jonah Pool-Jones wat sukses gesmaak het.

Dan het ʼn paar swemaflosspanne ook met goue vertonings vorendag gekom.

Johanita Scholtz het ook in die pluimbalarena ʼn slag geslaan, terwyl Hayley Preen en Dillon Geare die eersteplekspeke laat sing het.

Suid-Afrika se vrouekrieketspan het intussen na die Spele-eindstryd deurgedring nadat die spelers vir Uganda met 50 lopies in die halfeindstryd geklop het.

Egipte is tans eerste op die medaljepunteleer, gevolg deur Nigerië, Algerië en Suid-Afrika.

Suid-Afrika se gouemedaljewenners:

Caitlin de Lange: 100 m-vryslag en 50 m-rugslag

Catherine van Rensburg: 400 m-vryslag en 1 500 m-vryslag

Clayton Jimmie: 100 m-vryslag

Simone Moll: 100 m-borsslag

Jonah Pool-Jones: 50 m-rugslag

Swemspan: 4 x 200 m-vryslag (vroue), 4 x 100 m-vryslag en 4 x 100 m-wisselslag

Johanita Scholtz: Pluimbal

Hayley Preen: Fietsry

Dillon Geare: Fietsry

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.