Sport word stelselmatig weer hervat

Tony Ferguson en Justin Gaethje het mekaar agter geslote deure by UFC249 aangevat. Foto: Twitter.

Die Britse F1-renjaer Lewis Hamilton het onlangs in ’n onderhoud gesê dat sport ’n ongelooflik belangrike rol in mense se lewe speel.

In die Covid-19-era is regstreekse sport egter ’n verbode onderwerp met die nasionale maatreëls van verskeie lande wat bepaal dat openbare byeenkomste onwettig is.

Maar sport word stelselmatig weer hervat en hoewel die meeste sportsoorte agter geslote deure gespeel sal word, is daar darem weer lig aan die einde van die tonnel.

Ultimate Fighting Championship:

Die naweek se UFC249 is die eerste groot sportgebeurtenis in die VSA wat te midde van die Covid-19-pandemie kon voortgaan.

Ondanks een van die vegters en twee van sy spanlede wat vooraf positief vir Covid-19 getoets het, het Justin Gaethje steeds vir Tony Ferguson in die hoofgeveg ore aangesit.

“Dít is ’n ongelooflike geveg; as daar toeskouers was, sou hulle nou dié twee staande toegejuig het. Tony Ferguson is seker die taaiste persoon ter wêreld!” het ’n opgewonde Joe Rogan vanuit die kommentatorhokkie gesê.

Lewis Hamilton vier sy oorwinning. Foto: (AP Photo/Luca Bruno)

Formule Een:

F1 beplan steeds om op 5 Julie te begin met die Oostenrykse Grand Prix en nóg ’n wedren ’n week later by die Spielberg-renbaan. Dan is die kanse ook goed dat die Britse F1 op Silverstone-renbaan mag voortgaan.

“Om agter geslote deure te jaag, sal vir ’n leë gevoel sorg. Die ondersteuners is immers wat ’n wedren maak,” het die Britse F1-held, Lewis Hamilton, gesê.

“Sport speel ’n ongelooflik belangrike rol in mense se lewe en al kan toeskouers nie toegelaat word nie, sal dit steeds beter as niks wees nie.”

Die Hurricanes se Ngani Laumape. Foto: Facebook.

Rugby:

New Zealand Rugby (NZR) het bevestig dat ’n plaaslike weergawe van die Superrugby-reeks op 13 Junie in die land sal begin. Dit volg ná die regering se aankondiging dat rugby en netbal tydens vlak 2 van die land se afsonderingsregulasies hervat mag word.

Volgens die hersiende weergawe van die Superrugby-reeks sal die Chiefs, Highlanders, Blues, Hurricanes en Crusaders in aksie wees. Die toernooi sal oor tien weke plaasvind met wedstryde wat op Saterdae en Sondae gespeel word.

Dit sal op SuperSport uitgesaai word.

In Australië het die Brumbies ook tot die oefenveld teruggekeer met die vooruitsig dat hul rugbybase ’n soortgelyke resep as Nieu-Seeland sal volg.

Op tuisbodem lyk dinge egter minder rooskleurig met afsonderingbeperkings wat stipuleer dat kontaksport eers gedurende fase 1 hervat mag word.

Tog is SA Rugby vol vertroue dat die spel – hoewel agter geslote deure – weer in Augustus of September hervat kan word.

Die nasionale rugbybase kyk na ’n toernooi wat uit ses spanne bestaan om die Superrugby- en Pro14-toernooie te vervang. Die Curriebekerreeks sal dan ná afloop van dié beplande toernooi afskop.

Sokker:

Daar word beoog dat die Spaanse La Liga-reeks weer in Junie hervat word.

Gholf:

Rory McIlroy sal saam met Dustin Johnson vir Rickie Fowler en Matthew Wolff in ’n liefdadigheid-skouspel op 17 Mei aanvat.

Hul kragmeting sal regstreeks op SuperSport 6 uitgesaai word.

“Ek hoop ons kan vir ’n bietjie opwinding en vermaak in hierdie onsekere tye sorg,” het McIlroy gesê.

In Engeland word die publiek te danke aan die hersiende regulasies toegelaat om gholf te speel, mits hulle op hul eie is, of saam met hul huisgesin speel.

Marnus Labuschagne. (Foto: Twitter)

Krieket:

Die Indiese krieketspan is bereid om vir twee weke in kwarantyn geplaas te word sodat hul toer na Australië kan voortgaan.

Virat Kohli se span sal teen die einde van die jaar vier toetse, drie eendagwedstryde en drie T20-wedstryde teen die Aussies speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Duck

Bring it on!
laat ons maar die F1 sien sonder skares.
Ek is in elk geval alleen voor die TV as ek sport kyk, so dit hinder my nie.
Somewhere else in the world gaan hul klomp $$$ verloor.
Dis immers die skare, akkommodasie en eet plekke wat erg gaan verloor.
Maar nou ja, ek kan dit nie bekostig nie, sal maar anyway op TV sit en kwyl…..

Michael 1

Ek wonder hoeveel van ons sal rugby in sy huidige vorm mis?