Sportiewe kragpaar skitter vir UJ

Wian Conradie en Armoure le Roux is UJ se sportiewe duo. Foto: Facebook.

Mense wat uiteenlopende belangstellings het, is dikwels meer aangetrokke tot mekaar. Maar by die Universiteit van Johannesburg (UJ) is dié opvatting vanjaar dubbel en dwars verkeerd bewys.

Met Wian Conradie en Armoure le Roux spog dié universiteit met ’n sportiewe paar wat sáám die wenpodiums volstaan.

Die 24-jarige Conradie is op grond van sy sterk rugbyvertonings in 2018 se Varsitybekerreeks as dié universiteit se studente-atleet van die jaar aangewys.

Conradie het as losvoorspeler ’n kookwater-seisoen in die oranje trui gehad en het ’n deurslaggewende rol in UJ se derdeplekvertoning gespeel.

“My gunsteling-herinnering is beslis toe ek vanjaar vir die eerste keer die pienk broek (spesiaal toegeken aan spelers wat in die vorige kragmeting die speler van die wedstryd was) gedra het. Al het ons verloor, was dit beslis ’n besonderse oomblik,” sê hy.

Armoure le Roux het al op die internasionale atletiekverhoog geskitter. Foto: Verskaf.

Le Roux is ’n kranige 400 m-atleet wat al op die Afrika Jeugspele, die IAAF Wêreldkampioenskap en die Junior Afrikaspele haar staal gewys het. Sy is ook verlede jaar as UJ se junior atleet van die jaar gekroon.

Dié sportiewe duo se indrukwekkende getuigskrifte eindig egter nie daar nie: Conradie het in 2015 vir Namibië in die Wêreldbekerrugbytoernooi uitgedraf. “Die Wêreldbeker was beslis ’n hoogtepunt in my loopbaan en ek het elke oomblik daarvan geniet om Namibië by só ’n spoggeleentheid te verteenwoordig.”

Hy het ook vanjaar sy BTech-graad as landmeter verwerf en vertel dat dit hoegenaamd nie só moeilik is as wat almal dink om sport met studies te kombineer nie.

“Dit was vir my belangrik om my graad te verwerf en iets agter my naam te kry; die moontlikheid bestaan altyd dat my rugbydrome nie kan uitwerk nie. Ek dink dit het my altyd gemotiveer om ook in die handboekwêreld te presteer.”

Wat die toekoms betref, wink rugbywêreldbekers, meestersgrade en ’n moontlike ontmoeting voor die kansel vir dié twee.

Wian Conradie het in 2015 vir Namibië by die Rugbywêreldbeker verteenwoordig. Foto: Facebook.

“Op die rugbyveld sal ek my plek in die Pukke se Varsitybekerspan wil oopspeel, terwyl ek weer bitter graag Namibië in die 2019 Wêreldbeker wil verteenwoordig. Dan wil ek bietjie tyd agter die boeke spandeer en met my landmeter-meestersgraad begin,” sê die ambisieuse Conradie.

“En dalk – wanneer die tyd reg is – wil ek ’n ring aan my pragtige meisie se vinger sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.