Statebondspele: SA oes nog medaljes in

Wenda Nel. Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein

By die Statebondspele in Australië het span Suid-Afrika Donderdag nog ses (1-2-3) medaljes by hul oes gevoeg en ook ʼn Spelerekord herskryf.

Daarmee saam is die ongelooflike prestasie van Akani Sibine en Henricho Bruintjies wat goud en silwer in die 100 m behaal het, in die Para-kompetisie herhaal.

In die T12 100 m (vir siggestremde atlete) het Jonathan Ntutu in die uitdunne ’n tyd van 10.80 sekondes aangeteken wat ʼn nuwe Spelerekord is. In die eindwedloop het Ntutu goud gewen (11.02) en Hilton Langenhoven het met silwer om die nek weggestap (11.27).

Johannes Botha het op die stoeimat silwer ontvang in die 74 kg-vrystylafdeling.

In die eindwedloop van die 400 m-hekkies het Wenda Nel die bronsmedalje hare gemaak in ʼn tyd van 54.96 sekondes.

Op die rolbalbaan het Suid-Afrika nóg sukses behaal. In die B6/B7/B8-driespel het Christopher Patton, Tobias Botha en Willem Viljoen vir Engeland met 16-13 getroef om die bronsmedalje vir hulself te vat.

Johannes Botha. Foto: AP Photo/Manish Swarup

Alan Hatherly het ʼn bronsmedalje in die bergfietsveldren gewen (1:17.56).

Nicolene Neal en Colleen Piketh het die eindstryd van die pare-kompetisie gehaal wat beteken hulle is verseker van goud of silwer. Hulle speel Vrydag in die eindstryd teen Maleisië.

In die vroue 800 m-uitdun het Caster Semenya (1:59.26) haar plek in Vrydag se eindwedloop bespreek.

Suid-Afrika is nou vyfde op die medaljeleer met 32 medaljes (11-9-12).

Klik hier vir meer info.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E.K. die eerste ·

Mooi so! Nie gedink die bergfietsren sal my so interesseer maar toe ek inskakel en sien daar is een van ons ouens het ek bly kyk tot die einde! Die manne moet beslis fiks wees hoor! Dis nie net afstand maar ook die terrein – regtig nie vir sissies nie! Was ook baie trots om Ntutu en Langenhoven te sien deelneem en presteer en die deelnemer van Namibië wat met iemand aan die arm deelgeneem het – dit wil gedoen wees! Kan nie wag vir Caster vandag asook al die ander. Die werk word maar so tussendeur gedoen maar kyk wil ek kyk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.