Statebondspele: SA verloor stoom

Jonathan Ntutu en Hilton Langenhoven tydens die T12 100 m-finaal (Foto: Wessel Oosthuizen / SASPA via Team SA)

Die 21ste Statebondspele het Sondag aan die Goue Kus van Australië ten einde geloop en span Suid-Afrika het algeheel sesde op die medaljeleer geëindig. Suid-Afrika was in een stadium in die vierde plek, maar het stoom verloor oor die laaste twee dae.

Die grootste teleurstelling was in die sewesrugby waar die Blitsbokke in die uitspeel om die bronsmedalje ʼn voorsprong van 14-0 verspeel en die knie gebuig het teen Engeland. Engeland het met 21-14 gewen. Nieu-Seeland het vir Fidji in die eindstryd met 14-0 geklop om goud te wen en ook by Suid-Afrika verby te skuif op die medaljeleer.

In 2014 was Suid-Afrika sewende op die medaljeleer. Vanjaar eindig ons sesde uit 71 deelnemende lande.

Oorhoofs gesien het Suid-Afrika puik gevaar in die swembad met twaalf medaljes (6-3-3) en op die atletiekbaan het ons 14 medaljes ingepalm (5-4-5).

Dink maar aan die twee goue asook twee silwermedaljes in die 100 m vir mans (B12 ingeslote). Akani Simbine het die gouemedalje in ʼn tyd van 10.03 sekondes ingepalm met Henricho Bruintjies (10.17) tweede.

Caster Semenya het haar belofte nagekom en goud in die 800 m en 1500 m ingepalm.

In die swembad het Suid-Afrika twaalf medaljes gewen en Chad le Clos (5) het sy loopbaan-totaal opgeskuif na sewentien medaljes by die Statebondspele.

Le Clos het vir die eerste keer in die geskiedenis van die Statebond ʼn driekuns in die vlinderslag behaal toe hy ook goud in die 100 m gewen het. Hy het ook die spele-rekord herskryf na 50.65 sekondes.

Tatjana Schoenmaker het met goud weggestap in die 200 m borsslag (1:06.41). Dit was haar tweede gouemedalje van die Spele.

Op die rolbalbaan het Suid-Afrika vyf medaljes ingepalm. Suid-Afrika het in net agt sportsoorte medaljes kon wen.

Die 2022 Statebondspele sal in Birmingham aangebied word.

Klik hier vir meer inligting

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik van George ·

Statebond sowel as die statebondspele is n uitgediende konsep. Mors van miljarde in Brisbane om dit aan te bied.

Nico K ·

Hendrik, tegnies is jy reg, maar dit trek soveel belangstelling dat dit duidelik nie gaan verdwyn nie. Maar dit bly ‘n vreemde konsep. Al die lande wat so teen kolialisme is, is so gretig om aan kolonialisme se nalatenskap deel te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.