Stonehouse is SA se hardebaardbreier

Jimmy Stonehouse is een van die land se beste afrigters. Hier is hy aan die stuur van Toshiba Brave Lupus in Japan. Foto: Facebook.

Jimmy Stonehouse is een van die land se beste afrigters. Dis so eenvoudig soos dít.

Die 54-jarige rugbydirekteur van die Pumas het al sukses in Suid-Afrika, Japan, op skoolvlak en op die internasionale verhoog gesmaak; veral sy kanniedoodhouding en eerlikheid word wyd en syd gerespekteer. Maar soos wat dit dikwels in sportkringe gaan, word ’n profeet nie in sy eie land geëer nie.

“Dit was, en is steeds, ’n droom om die Bulle af te rig en ek is deur hulle genader. Tydsduur is egter van sleutelbelang vir my – die Pumas het in November met hul voorseisoense voorbereiding begin en ek sou verkies dat die nuwe afrigter dit moes behartig het. Tydsduur is dus die rede waarom ek my aan die Bulle-wedloop onttrek het. Terselfdertyd verstaan ek ook hul situasie en waarom hulle so lank geneem het om ’n breier te kies – dit is hoegenaamd nie ’n geringe taak nie.”

Stonehouse is vir 2019 steeds by sy geliefde Pumas betrokke en voorspel ’n groot seisoen vir dié unie.

“Die Pumas sal altyd ’n krag wees en aanstaande jaar vier die unie sy 50ste bestaansjaar. Ons voorseisoense voorbereiding was uitstekend en ons kan letterlik nie wag vir die komende seisoen om af te skop nie. Ek dink met ’n tikkie meer geluk aan ons kant, sou ons selfs in 2018 die halfeindstryd van die Curriebekerreeks gehaal het.”

Hy was die afgelope naweek tussen die 50 000-plus toeskouers wat die Kaapse been van die HSBC-sewesreeks op Groenpunt-stadion bygewoon het.

Volgende jaar is hy weer verbind tot sy geliefde Pumas. Foto: Hennie Homann.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring en dit is jammer dat die Blitsbokke verloor het. Maar weer eens, dit was die verdediging wat ons gekos het. Lyk my die sewes kyk by die Vyftienmanbokke in die klas af, want dit is dieselfde opskietverdediging wat hul planne in die wiele gery het.”

Hy glo juis dat die Springbokke se verdediging vir Rassie Erasmus slapelose nagte sal gee.

“Ek dink 2018 was ’n gemengde jaar vir die Bokke. Maar hoe nou gemaak – kan jy alles (spelpatrone, kombinasies, ensovoorts) verander as daar net vier toetse voor die begin van die toernooi is? Ander spanne – Wallis, Skotland en Ierland – het ons ingehaal en meen die Bokke kan sukkel om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.”

Hy het veral sy kommer oor die senterkombinasie uitgespreek.

“Ek sou graag wou sien dat iemand soos Jan Serfontein op binnesenter moet uitdraf – hy is veel eerder ’n spelskepper as Damian de Allende. Maar ter wille van die tyd wat in die De Allende/Kriel-kombinasie belê is, sal Rassie by hulle moet hou; hy het eenvoudig nie genoeg tyd om enige veranderinge te maak nie.”

Stonehouse het Toshiba Brave Lupus met welslae in Japan afgerig en verlang soms na dié land. “In Japan rig jy af te danke aan jou kennis en ervaring; jy is op grond van verdienste daar. In Suid-Afrika gaan dit ongelukkig soms oor wie vir wie ken.”

“Enigiemand strewe altyd na meer en beter en ek sal graag eendag ’n Superrugby- of Pro14-span wil afrig. Maar ek sal beslis die Pumas wil help om ten minste die halfeindstryd van die Curriebeker te haal.”

In Jimmy Stonehouse het Suid-Afrika ’n hardebaardafrigter wat die beste vir sy spelers gee én wat saam met die beste in die wêreld kan gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik UAE ·

Baie respek vir die man.Lank terug het ek gehelp rammetjies afrig en kortstondig met hom te doen gekry.Ek dink eerlik hy sal n man vir die groot oomblik wees. Gee hom net die regte geleentheid.Maar vasbyt met jou goeie werk by die Pumas Jimmy.DIe regte deur sal vir vir jou oopgaan.

Jorrie ·

Voorwaar ‘n goeie afrigter !! Bulle bestuur het gefaal om hom te werf!!

Josua Keys ·

Ek dink hy kan ‘n groot aanwins wees vir die Lions/ Leeus aangesien Swys hom dalk by die bokke permanent kan aansluit. Hy het uitstekende werk gedoen met die Pumas en in n mate ook bygedra tot die Lions se Super reeks suksesse, in my oë lankal goed genoeg gewees om selfs die bokke af te rig maar die rug was op hom gekeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.