Die Stormers het die Lions Saterdagaand met 19-17 geklop.
Herschel Jantjies is tans waarskynlik die gewildste man in Kaapstad, ná hy in die 85ste minuut van die SA-derby die wendrie teen die Lions op Nuweland gedruk het.
Die plaasvervangerskrumskakel het ná die sirene reeds geloei het, die los bal agter ’n skrum opgeraap, die gaping gesien, dit geneem en die Lions se harte gebreek.
In dié stadium van die geveg het die Johannesburgers nog 17-12 voorgeloop en was op koers om nóg ’n sege teen ’n Suid-Afrikaanse teenstander behaal.
Die twee spanne se Marvel-truie het baie ooreenkomste gehad en dit was aanvanklik moeilik om Stormer van Lion te onderskei.
Kwagga Smith en Warren Whiteley se drieë het wel in die eerste helfte vir die verskil op die telbord gesorg, terwyl SP Marais se skopvoet die Kapenaars in die wedstryd gehou het.
Marnus Schoeman se geel kaart in die 77ste minuut het die Lions op die agtervoet geplaas en hoewel hulle moedig verdedig het, het die volgehoue Stormers-druk uiteindelik vrugte afgewerp en hulle het vir die eerste keer in die 85ste minuut die voortou geneem.
Dit was genoeg om die wedstryd te wen; al was dit nie die wêreld se vermaaklikste tweestryd nie. Dit bly egter nie sleg vir ’n span wat skaars ’n week gelede op Loftus Versfeld verneder is nie.
- Puntemakers:
Stormers: Drie: Herschel Jantjies. Doelskop: SP Marais. Strafskoppe: Marais (4)
Lions: Kwagga Smith, Warren Whiteley. Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafskop: Jantjies.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
68 Kommentare
Geluk ! MAAR ai tog die span se bus was tog nie weer in die verkeer vasgehou nie ! NOU MOET JULLE ASB BEGIN MET DIE SEISOEN ??
Die eerste keer dat ek ‘n rugbyverslag sien sonder ‘n eindtelling.
Dit sal ñ blye dag wees as al ons skeidsregters op standaard is.
Dit is jammer daar moes ‘n wenner wees in so swak wedstryd! Nie een span het regtig verdien om te wen nie.
Dit sal ñ blye dag vir SA rugby wees as ons skeidsregters verantwoodelik gehou word vir ooglopende foute of is dit dalk onbevoegdheid.