Stormers trek Jaguares se tande op Nuweland

Eben Etzebeth. Foto: Facebook.

Die besoekende Jaguares het weliswaar eerste punte op Nuweland aangeteken toe Bautista Delguy in die vierde minuut gedruk het, maar vir die res van die wedstryd het die wind gunstig vir die Stormers gewaai.

Die tuisspan het daarna die besoekers se doellyn in die 17de, 46ste, 59ste en 77ste minuut oorgesteek. SP Marais en Jean-Luc du Plessis se skopskoene het ook gereeld die telbord aan’t rol gehou.

Dit is die Stormers se derde agtereenvolgende sege ná hulle in die openingsronde 40-3 teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld verloor het.

Hoewel die Stormers vroeg in vanaand se kragmeting agter was, het hulle met mening teruggeslaan en veral hul voorspelers het die Argentyne goed opgedons. Die voorry van Steven Kitshoff, Scarra Ntobeni en Frans Malherbe verdien lof vir die wyse waarop hulle die skrums oorheers het.

Hershel Jantjies – die man wat die wendrie in die ietwat omstrede Lions-kragmeting gedruk het – het vanaand weer eens sy driedrukvermoë uitgestal, terwyl Damian Willemse met sy voetwerk beïndruk het.

Die Jaguares was ook hul eie grootste vyand en het ’n hele paar ongedwonge foute begaan. Bygesê het die Stormers se hanteerwerk hulle ook met tye in die steek gelaat.

Die Springbokslot, Eben Etzebeth, moes die veld met ’n hoofbesering verlaat.

Stormers 35 – 8 Jaguares

Stormers: Drieë: Daniel du Plessis, Siya Kolisi, Hershel Jantjies, Justin Phillips. Doelskoppe: SP Marais (2), Jean-Luc du Plessis. Strafskoppe: Marais (3).

Jaguares: Drie: Bautista Delguy. Strafskop: Joaquan Diaz Bonilla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

? ·

Wragtig nie ‘n Stormer aanhanger nie, (eintlik meer hulle irriterende ondersteuners wat mens afsit) maar hulle het mooi rugby gespeel. Hulle verdien om te wen; Kitshoff is ‘n yster en die Du Plessis’s is ‘n aanwins, Jantjies het lekker seepglad gebreek vir ‘n mooie! Geluk aan die Visvoete. Sal ‘n mooi Kaapse rooi op julle drink.

bolla ·

Lyk asof dit ‘n maklike oorwinning vir my span teen die asado-spannetjie was. Nie gesien nie, het beter dinge gehad om te doen.

Smokey ·

Eben al weer beseer??
Mens kry so half die indruk dat hy liewer moet gaan stoei speel, soos sy ooms. Daai spiere is reg om ouens in ‘n kryt rond te stamp. Maar op ‘n rugbyveld gaan die manne hom eendag baie seer maak.
Die veld met ‘n hoofbesering verlaat…..ai, jai, jai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.