Studente begin hul rugbybeurse verdien

Tulu Verwey is Tukkies se kaptein. Foto: GB Jordaan.

Maandag se Varsitybekerrugby was dalk nie van die mees aksiebelaaide tweestryde van alle tye nie, maar om vir Naas Botha effens verkeerdelik aan te haal: jy slaag nie sommer Calculus 101 met jou eerste probeerslag nie. Net so word dié universiteitskampioenskap nie in Februarie gewen nie.

In Pretoria het Tukkies die Sentraal Universiteit vir Tegnologie (CUT) 23-6 geklop. Die Pretorianers het drie drieë gedruk, terwyl hul Bloubullosskakel, Tinus de Beer, met twee strafskoppe in die kol was.

De Beer sal hom in April by die Griekwas in Kimberley aansluit.

Vir Maties het die skopskoen van Jordan Chait die wa deur hul Witwatersrandse drif getrek. Albei spanne het elk drie drieë gedruk, maar Chait was met vier strafskoppe ook in die kol. Die Stellenbosse slimkoppe het uiteindelik voor ’n lekker groep toeskouers (ongeveer 17 000) 33-17 gewen.

Ondanks weerlig in Johannesburg – die wedstryd is 13 minute te vroeg gestaak – het die Pukke vir die Universiteit van Johannesburg 23-8 geklop. Die Johannesburgers se studente-atleet van die jaar in 2018, Wian Conradie, het goed vir sy nuwe universiteit vertoon en was een van die Pukke se sterre.

In Kaapstad het Ikeys en die Universiteit van die Wes-Kaap vir die skouspelagtigste, of altans as jy nou in terme van punte praat, wedstryd van die aand gesorg.

Die Kapenaars het gesamentlik 56 punte aangeteken, maar dit was uiteindelik die Ikey Tiere wat dié kragmeting 32-24 gewen het. Hul kaptein, Nama Xaba, moes egter die veld in die tweede helfte met ’n enkelbesering verlaat.

Die eerste salvo’s is afgevuur en die pienk broeke word uitgedeel … die rugby-eksamens kan nou net makliker en lekkerder word!

Puntemakers:

  • Tukkies teen CUT:

Tukkies (23): Drieë: Stephan Smit, Ciaran Dayaram, Wian van Niekerk. Strafskoppe: De Beer (2).

CUT (6): Strafskoppe: Marc Morrison, Heinrich Bitzi.

  • Maties teen Wits:

Maties (33): Drieë: HJ Luus (2), Logan Boonzaaier. Doelskoppe: Jordan Chait (2). Strafskoppe: Chait (4).

Wits (17): Drieë: Krappies van den Berg, CJ Conradie (2). Doelskoppe: Christian Humphries.

  • Ikeys teen Universiteit van die Wes-Kaap:

Ikeys (32): Drieë: Tumi Mogoje, Stef de Gouveia, Cuan Hablutzel, Michael Brink. Doelskoppe: Darian Hock (4).

Universiteit van die Wes-Kaap (24): Drieë: Kurt-Lee Arendse, Tristan Leyds, Andre Manuel. Doelskoppe: Lyle Hendricks (3). Strafskop: Hendricks.

  • Pukke teen die Universiteit van Johannesburg:

Pukke (23): Drieë: Louis van der Westhuizen, Pienaar van Niekerk, Lungelo Gosa. Doelskoppe: Hugo Schalk (3).

UJ (8): Drieë: Cyprian Nkomo. Doelskop: Jean-Luc Cilliers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.