Sunwolves klop Waratahs in Australië

Die Sunwolves het vanmiddag die Waratahs 31 – 29 in Australië geklop. Foto: Facebook.

Die probleem wanneer jy op die kruin van die golf is, is dat jy jou moet staal: die een of ander tyd tuimel daardie einste golf weer met ’n harde slag aarde toe.

Die Waratahs het dié tikkie lewenswysheid vandag besef toe die Sunwolves hulle met 31–29 in Newcastle, Australië, geklop het.

Die Australiese span het verlede week die voorste span in vanjaar se reeks – die Crusaders – met 20–12 gewen, maar vandag teen die swakste span in die reeks verloor.

Die Sunwolves – wat in 2021 uit die Superreeks geskop gaan word – het hulle eerste sege ooit in Australië behaal danksy skitterende werk deur onder andere Semisi Masirewa en hul losskakel, Hayden Parker.

Toe die Japannese klub teen die Lions verloor het, het ondersteuners op hul Facebook-blad gesê Masirewa moet die trekpas kry. Vandag het dié Fidji-vleuel drie drieë gedruk en vir die Waratahs (en ’n paar sofapôkkel-kenners) gewys waar Dawid die wortels gegrawe het.

Parker het soos ’n generaal sy agterlyn bestuur en was suksesvol met vyf stelskoppe.

Die Waratahs bly steeds eerste op die Australiese punteleer en derde op die algehele tabel. Maar die feit dat hulle die Sunwolves onderskat het, is gewis.

Daarteenoor het die Sunwolves na die 13de plek op die algehele punteleer geklim.

  • Grant Hattingh en Gerhard van den Heever het vir die Sunwolves begin.
  • Puntemakers:

Sunwolves: Drieë: Grant Hattingh, Semisi Masirewa (3). Doelskoppe: Hayden Parker (4). Strafskop: Parker.

Waratahs: Drieë: Nick Phipps, Cameron Clark, Michael Hooper, Kurtley Beale. Doelskoppe: Mack Mason (2), Beale. Strafskop: Mason.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Dit is een van die mees onvoorspelbare superreekse ooit. Ek hou daarvan want dit maak die rugby baie interessant. Ook tussen die SA spanne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.