‘Survivor’-ster se hart klop warm vir klubrugby

Werner Joubert en Nico Panagio tydens verlede jaar se Survivor-reeks. Foto: Facebook.

Een van die gewildste Survivor SA-deelnemers (waarskynlik dié gunsteling vir baie kykers), Werner Joubert, is nie net ’n man wat immuniteit so gereeld soos klokslag op ’n eiland kan wen nie; hy wen ook talle harte vir sy geloof op die rugbyveld.

Die 35-jarige Joubert het verlede jaar met die titel as Kykers se Gunsteling in die Survivor-slotepisode weggestap, maar dié pastoor van die Shofar-kerk in Secunda, Mpumalanga, se hart klop ook warm vir klubrugby.

“Ek het nog altyd rugby gespeel – toegegee, daar is ander sportsoorte waarin ek baie beter presteer het, maar ek het nog altyd ’n passie vir rugby gehad,” het hy Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê.

Joubert het ná sy skoolfase sy hart vir die Here gegee en spoedig gedurende sy jare by die Universiteit Stellenbosch besef dat die Here selfs rugby kan gebruik om sy Woord te versprei.

“Ek wil my geloof op ’n real manier met ander deel en ’n getuie vir Jesus wees. Rugby is ’n kragtige wapen om dit te doen.”

’n Paar jaar gelede het Joubert en sy gesin na Secunda verhuis en dit is hiér waar Joubert (toe 28 jaar oud) weer self begin rugby speel het.

“Ek het in 2012 my tweede Cape Epic-bergfietswedren voltooi en het minder as 80 kg geweeg.”

’n Hele paar sessies in die gimnasium later en hy het as slot vir Sasol se eerste span die skaal op 104 kg laat kreun.

“Kort daarna is ek tot klubkaptein verkies. Ek het probeer om die waardes wat ons by die kerk beoefen het, ook op die rugbyveld toe te pas.”

Sasol het onder meer, in plaas daarvan om vir ’n speler ’n bakoond-pakslae op sy verjaarsdag te reël, ’n kring om die betrokke speler gevorm en hom begin prys vir sy positiewe kenmerke.

“Dit was aanvanklik vreemd vir die meeste ouens, maar ons het dit nooit op hulle probeer afdwing nie. Ons het probeer om waardes soos diensbaarheid en gasvryheid onder die spelers te vestig,” vertel Joubert.

Hier vier hy fees (links voor) saam met die spelers van Sasol Rugbyklub. Foto: Facebook.

Duidelik het dié benadering vrugte afgewerp. Nie net het borge en talentvolle spelers na Sasol begin stroom nie, hulle was ook vir ’n paar agtereenvolgende jare die provinsiale kampioenspan – ’n prestasie wat gesorg het dat hulle by die nasionale Gold Cup in aksie was.

Hoewel Joubert self nie meer speel nie, is hy steeds betrokke by die klub as hul lewensafrigter – die breier wat op die klub se waardes en kultuur konsentreer.

Maar wat is ’n onderhoud met Werner Joubert sonder om oor Survivor SA te gesels?

“Ek sal daaroor dink,” is sy vae antwoord toe hy gepols word oor die moontlikheid van ’n tweede Survivor-deelname. “Ek het weliswaar my fiets verkoop voor ons Secunda toe gekom het, maar deesdae hou ek my fiks ingeval ek weer na Survivor genooi word,” sê hy ’n rukkie daarna.

Hoewel ’n gesonde liggaam noodsaaklik is, sorg Joubert en Kie ook dat die Sasol-spelers se geestelike lewe gesond is. En dít meen hy, is van baie meer waarde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.