Swift is SA se voorste vroue-atleet

Dina Swift van CrossFit Tijger Valley is die voorste SA atleet ná die Ope. Foto: Verskaf.

Ná vyf moordende rondes van sweet, optrek-latte wat dik met kalk besmeer is en eelte wat inderhaas met pleisters toegeplak is, het die wêreldwye CrossFit Ope tot ’n einde gekom.

Ongeveer 400 000 CrossFitters van oral in die wêreld was in aksie in dié internasionale poging om óf vir die CrossFit Spele later vanjaar in Amerika te kwalifiseer, óf om hulself ’n fiksheidsuitdaging te gee wat vir niks skrik nie.

Mat Fraser en Sara Sigmundsdottir is uiteindelik as die algehele Ope-kampioene gekroon, maar hier in Suid-Afrika het die CrossFitters ook glad nie sleg gevaar nie.

Jason Smith van CrossFit Kyalami – wat in 2017 Spele toe was – is die voorste mansatleet, terwyl CrossFit Tijger Valley se Dina Swift die beste onder die land se vroue was.

Die 30-jarige Swift is ook 277ste ter wêreld – hoegenaamd nie ’n slegte prestasie nie.

“Ja, ek wil beslis na die CrossFit Spele gaan,” het sy Woensdagoggend aan Maroela Media gesê.

Swift het onderskeidelik eerste, sewende, vyfde, vierde en vyfde in die Ope klaargemaak om eerste onder die Suid-Afrikaanse vroue te eindig.

“Die Ope was baie uitdagend vanjaar, maar ek het elke sessie geniet. Ek dink dit is die hoofrede waarom ek so baie van CrossFit hou – dit toets jou fiksheid op alle vlakke. Jy kan nie anders as om veelsydig te wees nie.”

Sy is algheel 277ste in die wêreld. Foto: Verskaf.

Atlete kan op drie maniere vir die Spele kwalifiseer: Hulle moet óf algeheel onder die top‑20 by die Ope eindig, óf hulle moet die beste atleet in hul land wees, óf hulle moet sterk vertoon by een van die CrossFit-geaffilieerde toernooie; die Sanctionals soos wat dit bekendstaan.

Swift en haar span is besig met die kwalifiseringsproses en sy is baie tevrede met haar Ope-vertoning.

“Ek het pas my terugkeer van ’n knieoperasie gemaak en dit is wonderlik om bo-aan die punteleer te eindig. Dit is net weer eens ’n bewys dat harde werk inderdaad vrugte afwerp.”

Sy oefen tot drie keer per dag, vir ses dae per week.

“In CrossFit kan jy basies op ’n daaglikse basis verbeter en dit daag jou elke keer uit. Jy dink die een dag jy is goed met iets, net om die volgende dag te besef dat jy nog baie hard moet werk om die beweging werklik te bemeester.

Die Australiese Olimpiese atleet en huidige CrossFit-vrouekampioen, Tia-Claire Toomey, is haar rolmodel.

“Sy word jaarliks net sterker en fiksser. Dis ongelooflik om te sien.”

En nes Toomey, wil Swift ook elke jaar sterker en fiksser word. Sy is hard op pad om juis dit te doen…

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.