Imran Tahir het aangekondig dat hy na die wêreldbeker in Engeland uit internasionale eendagkrieket sal tree.
Die 39-jarige draaibalbouler het sy debuut vir Graeme Smith se Proteas in die 2011-wêreldbeker in Indië gemaak.
Hy het sommer in sy eerste wedstryd reeds die paaltjies laat spat en 4/41 geneem. Hy het uiteindelik 14 paaltjies teen ’n gemiddeld van 10.71 geneem.
Suid-Afrika is op dramatiese wyse in die kwartfinaal deur Nieu-Seeland uitgeskakel, maar Tahir het sy stempel op internasionale eendagkrieket afgedruk.
Deur die loop van die volgende agt seisoene was hy Smith, AB de Villiers en Faf du Plessis se sleutelspeler wanneer paaltjies in die vervelige middelboulbeurte van ’n eendagwedstryd geneem moet word, óf wanneer die lopiekrane toegedraai moet word.
“Ek wil so lank speel as wat ek kan, maar ek is nou in ’n stadium van my lewe waar moeilike besluite geneem moet word. En dié is waarskynlik die moeilikste keuse van my lewe,” het Tahir by ’n perskonferensie gesê.
Hy het bygevoeg dat hy en Krieket Suid-Afrika ’n verstandhouding het dat hy ná sy eendaguittrede vir T20-ligas oral in die wêreld beskikbaar sal wees, maar dat hy steeds vir die Proteas se T20-wedstryde gekies kan word.
Tahir is ook steeds vir toetskrieket beskikbaar, maar hy het laas in 2015 in dié formaat gespeel.
Indien alles volgens plan verloop, sal hy sy 100ste eendagwedstryd vir die Proteas in Engeland speel.