Tennis: Wie kan die Aussie-Ope wen?

Dit is moontlik dat Novak Djokovicnie sy titel in Januarie kan verdedig nie. (Foto: Vince Caligiuri/Tennis Australia/AFP)

Die deur het vir die jong Turke van manstennis oopgeswaai om die houvas van die Groot Drie in Grand Slam-toernooie te verbreek.

As Novak Djokovic nie Maandag die Australiese hof kan oortuig dat sy visumaansoek in orde is en dat hy regmatig mediese vrywaring gekry het nie (hoewel hy nie ten volle teen Covid-19 ingeënt is nie), sal dit die glans van vanjaar se Australiese Ope by Melbourne Park laat verdof.

Veral ook omdat Roger Federer (hy herstel nog ná ʼn knieoperasie) hom reeds onttrek het, asook Stan Wawrinka, die wenner in 2014.

Saam het Djokovic (huidige kampioen en nege titels) en Federer (ses titels) die Aussie-Ope reeds 15 keer gewen. Boonop het Rafael Nadal (wenner in 2009 en die ander lid van die Groot Drie) eers onlangs weer begin speel en sal ʼn nuwe manskampioen gekroon word vir die toernooi wat op 17 Januarie begin.

Maar as Djokovic toegelaat word om in Australië aan te bly, sal die geestelike en emosionele letsels van ʼn kamertjie met toegeplakte vensters in ʼn kwarantynhotel in Melbourne hom dalk sielkundig knak.

Voeg daarby dat die Australiese ondersteuners verdeeld oor sy deelname sal wees – iets wat hom verder kan kniehalter.

Voor in die ry om Djokovic te onttroon, staan die Rus Daniil Medvedev, wat Djokovic in die eindstryd van verlede jaar se Amerikaanse Ope geklop het. Medvedev kan saam met nog twee van sy landgenote, Andrey Rublev en Karen Khachanov, hul rûe styfmaak.

Die Duitser Alexander Zverev (wat tweede gekeur kan wees as Djokovic die deur gewys word) en die Griek Stefanos Tsitsipas kan hul opmars in wêreldtennis verder verstewig, terwyl die Italianers Matteo Berrettini en Jannik Sinner, Casper Ruud van Noorweë, Felix Auger-Aliassime en Dennis Shapovalov van Kanada, asook die drie Spanjaarde Nadal, Roberto Augusta Agut en Pablo Carreno Busta saam met Dominic Thiem van België die buiteperde kan wees.

Suid-Afrika se Lloyd Harris (hy kan 30ste gekeur wees) kan een van die verrassingspakkies wees. Harris was in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om betyds in Australië te wees oor Covid-19-kwarantynvereistes, maar hy het Vrydag die jawoord gekry om na Australië te reis.

My wen-raaiskoot? Die Rus Daniil Medvedev.

* In die vroue-afdeling hoop Ashleigh Barty om die eerste Aussie in 44 jaar te word wat die toernooi kan wen nadat Chris O’Neill dit laas in 1978 reggekry het.

Een van haar groot struikelblokke, Serena Williams, is op aanbeveling van haar mediese span aan die toernooi onttrek.

Barty se grootste teenstand kan van Garbiñe Muguruza (Spanje), Aryna Sabalenka (Belarus), Karolina Pliskova en Barbora Krejcikova (albei Tsjeggiese Republiek), Iga Swaitek (Pole) en Anastasia Pavlyuchenkova (Rus) kom.

Die Japanner Naomi Osaka, wat in 2021 die titel gewen het, speel weer in haar gunstelingtoernooi, maar ek sal nie geld op haar verwed om haar titel met welslae te verdedig nie.

Dís hoekom Barty se paadjie uitgestippel kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anton ·

Nes die krieket, is dit nou weer politiek, so ek gee nie ‘n duit om nie

Treurwilger ·

Medvedev is ‘n puik raaiskoot en sal ‘n waardige nuwe kampioen wees.

Die toestande waarin die verdedigende kampioen Novak aangehou word, is skokkend.
Een joernalis het gedink Aus Border Force maak ‘n flou grap toe sy hoor dís Novak se bestemming.
Die feit dat die wêreld no.1 en verdedigende kampioen in aanloop tot ‘n Grand Slam op so ‘n vernederende, gruwelike wyse behandel word, laat enige redelike mens sprakeloos, ongeag die sameloop van gebeure.
Glo nie die laaste hiervan is gehoor nie.
Skaam jou, Australië.

Die leedvermakerige Australiese publiek is nie iets vreemds nie, maar meer verontwaardiging is verwag van laer gekeurde tennisspelers vir wie Novak finansieël bygestaan het toe hulle bykans geen geld kon verdien tydens Covid nie.

Amelia ·

Jy maak ‘n baie goeie punt in jou laaste sin, maar ek vermoed die ander spelers se ogies blink van die dollar tekens nou dat hulle ‘n glimpsie van ‘n kans bespeur om in die toernooi te kan seëvier.

Johnny ·

Ouens op daardie vlak is baie sterker as dit. so ek glo nie die aanhouding sal hom sielkundig knak nie. Dit sal hom nie eers negatief raak nie. Inteendeel – ek glo dit sal hom net briesend kwaad maak, en hy kan dalk verwoestend wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.