Tennisjaar begin met Aussie Ope en Anderson mik nóg hoër

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Michel Euler

Die Australiese Ope slaan oor vier dae af en Suid-Afrika se Kevin Anderson sal op die suksesgolf van die afgelope twee jaar wil voortry.

Die lenige Anderson het in 2017 en in 2018 in twee Grand Slam-eindstryde (die Amerikaanse Ope en Wimbledon) gespeel, terwyl hy met verskeie groot name in die proses afgereken het. Hy het in die begin van Januarie ook die Maharashtra Ope in Indië gewen – ’n toernooi wat as perfekte voorbereiding vir die Aussie-avontuur dien.

Anderson – wat die maatband op 2,03 m laat rek – was in Indië teen Kroasië se Ivo Karlovic in aksie en die eindstryd is met reg as die “Stryd van die Reuse” gedoop; veral as jy in ag neem dat Karlovic 2,11 m lank is.

Anderson se openingswedstryd in Melbourne is teen die 30-jarige Fransman, Adrian Mannarino. Die twee was al agt keer slaags met Anderson wat ses keer aan die wenkant was.

Wen Anderson, kan hy later in die toernooi teen Spanje se Rafael Nadal in ’n watertandontmoeting te staan kom.

Roger Federer. Foto: Ng Han Guan, AP

Die verdedigende kampioen, Roger Federer, begin sy veldtog om drie agtereenvolgende Aussie Ope-titels teen Dennis Istomin te verower.

Federer is weliswaar tennis-bloubloed, maar hy sal dom wees om Istomin te onderskat – die Oesbeek het in 2017 met Novak Djokovic in die tweede ronde van die einste toernooi klaargespeel.

Indien Federer op 27 Januarie wen, sal dit die sewende keer wees dat hy die Norman Brooks Uitdaagbeker omhoog hou.

In die vroue-afdeling is Simona Halep eerste gekeur, terwyl Caroline Wozniacki – verlede jaar se wenner – derde gekeur is. Serena Williams is 16de op die Aussie-ranglys.

Hoe die spelers gekeur is vir die 2019- Australiese Ope:

Mans:

1. Novak Djokovic
2. Rafael Nadal
3. Roger Federer
4. Alexander Zwerev
5. Kevin Anderson
6. Marin Cilic
7. Dominic Thiem
8. Kei Nishikori
9. John Isner

Vroue:

1. Simona Halep
2. Angelique Kerber
3. Caroline Wozniacki
4. Naomi Osaka
5. Sloane Stephens
6. Elina Svitolina
7. Karolina Pliskova
8. Petra Kitova
9. Kiki Bertens
10. Dria Kasatkina
16. Serena Williams

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.