‘The Mountain’ bult weer sy spiere

Hafthor Bjornsson het ‘n nuwe dooiegewigoptel-rekord opgestel. Foto: Skermskoot/YouTube-video

Wanneer ’n mens van sportsterre soos Cheslin Kolbe of Herschel Jantjies praat, word daar tereg gesê dat klein botteltjies oor groot gif beskik.

Maar wat sê jy dan wanneer jy na iemand soos Hafthor Bjornsson kyk? Die Yslandse reus staan 2,05 m in sy sokkies en weeg ’n ongelooflike 193 kg.

As Ser Gregor “The Mountain” Clegane in die gewilde Game of Thrones-televisiereeks moes hy gereeld sy spiere in diens van Cersei Lannister bult.

Die 31-jarige – wat in 2018 as die sterkste man ter wêreld aangewys is – het egter so pas weer sy krag op die groot verhoog uitgestal.

Hy het gister Eddie Hall se dooiegewigoptel-rekord met 1 kg verbeter. Die Brit se rekord van 500 kg is in 2016 opgestel toe hy die eerste persoon in die geskiedenis geword het om meer as 500 kg op te tel.

Bjornsson het egter vir ’n kragtoer soos min gesorg toe hy 501 kg by die Thor’s Power Gym in Ysland van die vloer gelig het.

Hoewel hy taamlik rooi in die gesig geword het, het hy die gewig sonder enige stampe of stote opgetel en vir ’n paar sekondes só gestaan om die rekordboeke te herskryf.

Hafthor Bjornsson. Foto: Instagram

“Ek dink ek kon ’n swaarder gewig opgetel het, maar wat is die punt? Ek is baie tevrede met my poging,” het hy agterna gesê.

Die wedywering tussen Bjornsson en Hall het egter tot ’n proteïenpoeier-spattende crescendo opgebou met ’n boksgeveg tussen die twee wat glo volgende op die spyskaart is.

Volgens Britse poniepers-berigte het Core Sports die twee ’n reusebedrag aangebied om hul bokshandskoene aan te trek.

“Eddie, ek het so pas jou rekord verbeter en is nou gereed om jou in die kryt uit te slaan. Ek is gereed daarvoor, is jy?” het ’n veglustige Bjornsson gesê.

Hall het kort daarna die uitdaging aanvaar.

“Dit is nie omdat hy my rekord verbeter het of oor die bekgevegte nie. Ek het die uitdaging aanvaar omdat hy aanvoer dat ek gedurende die 2017 World Strongest Man-kompetisie gekul het,” het Hall gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boerkind ·

Ja… is ‘n redelike prestasie… seker, maar om daagliks onder hierdie ANC te leef EN oorleef verg veel meer as net dit…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.