Titans deur na Momentum-eindstryd

Farhaan Behardien het met die kolf uitgeblink. Foto: GB Jordaan.

Die Titans het Woensdagaand vir die eindstryd van die plaaslike Momentum-eendagbeker gekwalifiseer toe hulle die Cape Cobras met vyf paaltjies op SuperSport Park in Centurion geklop het.

Dit was ’n sterbelaaide tweestryd met Proteaspelers wat vir albei spanne die veld geneem het. Dale Steyn het gewys hy is steeds ’n gevaar met die nuwe wit bal met sy spogboulontleding van 3/20 in sy tien boulbeurte.

Die hoofverwoester is egter nóg ’n Protea, Junior Dala, wat ses paaltjies in byna nege boulbeurte geneem het.

Dala se vaart en aggressie was een te veel vir die Cobras – wat sonder Hashim Amla moes klaarkom.  Die 29-jarige snelbouler het onder andere van JP Duminy (13) en die talentvolle Kyle Verreyne (65) ontslae geraak.

Ashwell Prince – die Cobras se breier – het vroeër in ’n onderhoud gesê dat Verreynne ’n baie spesiale speler is.

Dale Steyn en Junior Dala het die Cobras-kolwers laat bontstaan en nege paaltjies tussen hulle geneem. Foto: GB Jordaan.

Die 21-jarige paaltjiewagter het gister dubbel en dwars sy breier se vertroue in hom terugbetaal. Sonder sy vyftigtal sou die Cobras baie minder as hulle 187/10 aangeteken het.

Met ’n teiken van slegs 188 lopies in hul visier sou die Titans se sterk kolforde – wat spelers soos Theunis de Bruyn, Tony de Zorzi, Jonathan Vandiar, Aiden Markram en Dean Elgar ingesluit het – oor meer as genoeg skietgoed beskik het om die wenlopies maklik te kry.

Vernon Philander (2/35) en Rory Kleinveldt (3/49) het egter ander planne gehad en danksy hul skitterende boulwerk het die Titans op 65/5 gesteier. Aiden Markram is  vir 21 lopies uitgehaal.

’n Bobaas-vennootskap tussen een van die nasionale keurders se vergete manne – Farhaan Behardien – en die jong Corbin Bosch (wyle Tertius Bosch se seun) het die wa deur die drif vir die tuisspan getrek.

Behardien het sy reputasie gestand gedoen as een van die beste eindkolwers in die land. Wanneer ’n suksesvolle lopiejaagtog ’n Behardien-stempel op het, kan jy maar weet dit was óf ’n spannende affêre waar hy koelkop moes bly, óf dit was in ’n japtrap klaar danksy sy vermoë om die langsteel op plaaslike vlak in te lê.

Sy onoorwonne 75 en Bosch se 45 het met hul vennootskap van 123 om die sewende paaltjie die wedstryd vir die Titans beklink.

  • Die ander halfeindstryd word vandag tussen die Dolphins en die Warriors gespeel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Al ·

Behardien weereens bewys hy is beter as Duminy. Maar wie gaan World Cup toe??

Jack Russl ·

Bewys? Hy het nog niks bewys nie. Een goeie telling elke 10de wedstryd bewys niks nie.

Provinsiale speler ja, maar nie internationale speler nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.