Toetsrugby: All Blacks verguis Tonga

Will Jordan van die All Blacks druk ’n drie. (Foto: MICHAEL BRADLEY / AFP)

Dit was blote kuikenmoord.

Saterdag in die Mount Smart-stadion in Auckland was dit weer die geval toe Nieu-Seeland vir Tonga in hul toetsrugbywedstryd met 102-0 geklop het nadat hulle rustyd reeds met 43-0 voor was.

Die telling ewenaar die vorige hoogste telling van 102-0 wat die All Blacks in 2002 teen Tonga opgestapel het.

Die slagting was heel te verwagte, want die arme Tongane is vir die wolwe gegooi. Hulle het geraap en geskraap om ʼn ordentlike span te kies en kon slegs een of twee oefeninge inpas.

Kyk maar na die statistieke. Die hele Tonga-span het saam nog net in 120 toetse gespeel.

Die All Blacks-kaptein, Sam Whitelock, het reeds in 122 toetse voor Saterdag se kragmeting gespeel.

Wat baie belangrik vir die All Blacks was, was hoe hulle gespeel het en of daar enige leemtes is wat voor die Rugbykampioenskap in Augustus en September teen die Springbokke, Wallabies en Argentynse Poemas reggestel moet word.

Wel, daar was bitter min: die grootste een was die 13 strafdoele wat die Nieu-Seelanders afgestaan het en dan wek die besering van die skrumskakel Brad Weber ook kommer.

Dalk was die skeidsregter Ben O’Keeffe ʼn bietjie toegeeflik teenoor die Tongane, hoewel elkeen van daardie strafskoppe tog geregverdig was.

Om uitblinkers uit te sonder, is moeilik, want byna die hele span verdien amper volpunte vir hul hantering, ondernemingsgees, die skep van kanse, balverspreiding en hul kragvertoning in die skrums, lynstane en vaste los.

Sestien sprankeldrieë vertel die verhaal van absolute oorheersing.

Vir die rekordboeke het die vleuel Will Jordan vyf drieë gedruk, wat Jeff Wilson se vyf drieë in 1997 teen Fidji ewenaar.

Dit is slegs een minder as die ses drieë wat Marc Ellis in 1995 in die Wêreldbekertoernooi teen Japan gedruk het toe die All Blacks in Bloemfontein met 145-17 gewen het.

Die groot vraag is of die All Blacks, wat nou reeds ses keer meer as 100 punte in ʼn toets aangeteken het, gestuit kan word.

Te oordeel na hul vertoning teen Tonga, wag daar swaarkry op hul teenstanders.

 Punte: All Blacks 102 (43): Drieë: Damian McKenzie, Will Jordan (5), Dalton Papalii (2), Brad Weber (3), Luke Jacobsen, Richie Mo’unga, Rieko Ioane, Patrick Tuipulotu, George Bridge. Doelskoppe: Mo’unga (7), Beauden Barrett (4).

Tonga 0.

* In die voorwedstryd het die Nieu-Seelandse Maori sy tweede opeenvolgende oorwinning oor Samoa behaal toe hy met 38-21 gewen het.

Samoa en Tonga meet nou kragte in ʼn kwalifiserende wedstryd om te bepaal watter span in 2023 se Wêreldbekertoernooi in Frankryk gaan speel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tubac ·

Voorwaar nie n prestasie nie. Weet nie hoekom die media so opgewonde daaroor raak nie.

Cecilia ·

D All Blacks probeer ook nou maar hulself goed laat lyk na hul 2019 Wereldcbeker verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.