Toe fietsrylegendes soos Bernard Hinault, Eddy Merckx, Jacques Anquetil en Miguel Indurain (almal vyf oorwinnings) jare gelede die Tour de France oorheers het, is daar altyd gewonder wie hulle sou kon opvolg.
Die Brit Chris Foome het met sy vier Tour-oorwinnings in hul voetspore getrap, maar wie daarna?
Nou het die 22-jarige Sloween Tadej Pogacar, met sy skoongeskeerde seunsgesig, na vore getree as die nuwe held van die Tour.
Pogacar (UAE Emirates), wat verlede jaar ook as kampioen gekroon is, sal na alle waarskynlikheid sy tweede opeenvolgende Tour wen wanneer die jaers Sondagmiddag in Parys aankom.
Die laaste skof word as seremonieel beskou en die draer van die geel trui word nie uitgedaag nie.
Met ʼn voorsprong van vyf minute en 20 sekondes bo Jonas Vingegaard (Jumbo Visma) en Richard Carapaz van Ecuador (Ineos Grenadiers) sewe minute en drie sekondes agter Pogacar, is die Tour in die sakkie.
Saterdag se 20ste en voorlaaste skof, ʼn individuele tydtoets, is deur Wout van Aert (Jumbo Visma) gewen, maar dit het nie veel invloed op die voorlopers gehad nie.
Van Aert het 21 sekondes voor Kasper Asgreen (Deceuninck – Quick-Step) geëindig, met Vingegaard ʼn verdere 11 sekondes agter.
Vingegaard het 15 sekondes van Pogacar se groot voorsprong afgeknyp en Carapaz het een minuut en 12 sekondes ingeboet, maar aan sy algehele derde plek geklou.
Wat in Vrydag se 19de skof uitgestaan het, was toe Merckx, wat 34 skofte in die Tour gewen het, Pogacar as die volgende “kannibaal” in fietsry beskryf het.
Volgens Merckx is Pogacar jonk genoeg om vyf toere te wen om hom by die heel grotes aan te sluit.
Dit was Merckx se voorreg om ʼn 12de geel trui (dit sal 14 ná Sondag se laaste skof wees) aan Pogacar te oorhandig.
In ʼn televisieonderhoud ná die tyd was Pogacar baie beskeie.
“Dis ongelooflik om saam met Eddy Merckx op die podium te kon staan. Hy is ʼn held in fietsry. Ek beskou myself nog nie as held nie, maar hoop om kinders aan te spoor om fiets te ry.”