Toyota-uitdaagreeks: WP knak Cheetahs ná sirene loei

Die Westelike Provinsie het die Cheetahs met een punt geklop. (Foto: Twitter / @SuperSportTV)

Dit was Saterdag ʼn vrugbare uitstappie vir die Westelike Provinsie XV se rugbyspan na Bloemfontein toe hulle die Cheetahs met 31-30 in die Toyota-uitdaagwedstryd geklop het.

Die Kapenaars se bankbalans het gebult en jong spelers het die kans gekry om op ʼn hoër vlak hul kanse aan te gryp.

Op die ou einde was dit egter die ervare vleuel Seabelo Senatla wat die Cheetahs se drome vernietig het toe hy, nadat die sirene reeds geloei het om die einde van die wedstryd aan te dui, ʼn doodsnik-drie gedruk het.

Vooraf is daar groot gewag gemaak van die liplekker-tweestryd tussen Senatla en die Cheetahs se Rosko Specman, maar daar het dadels van gekom omdat Specman vroeg beseer is. Sy dae by die Cheetahs is (vir eers) verby, want hy sluit hom binnekort as leenspeler by die Stormers aan.

Vir die WP het die jong losskakel Sacha Mngomezulu, wat reeds vir die Junior Bokkies uitgemunt het, asook Tristan Leyds en Leolin Zas agterlangs gewoel.

Vir die Cheetahs was hul Griekwas-aanwinste, Daniel Kasende (vleuel) en Gideon van Merwe (flank), propvol planne.

Dan het die kwiksilwer-heelagter Cohen Jasper, Siya Masuku (losskakel) en hardebaarde soos Aideon Davis, Thembalani Bholi en Wilmar Arnoldi ook die oog getref.

Punte:

WP XV 31 (16) Drieë: Marcel Theunissen, Seabelo Senatla (2). Doelskoppe: Sacha Mngomezulu (2). Strafdoele: Mngomezulu (4).

Cheetahs 30 (17) Drieë: Gideon van der Merwe, Daniel Kasende, Cohen Jasper. Doelskoppe: Siya Masuku (2), Brandon Thomson. Strafdoele: Masuku (3).

https://twitter.com/SuperSportTV/status/1459570730354593795/photo/1

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.