Ulster gee Sharks streepsuiker

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Dit het die Sharks Saterdagmiddag op Kingspark in Durban net twee minute geneem om die voortou te neem ná ʼn drie deur die skrumskakel Grant Williams in die Verenigde Rugbykampioenskap teen Ulster, maar toe beland hulle in ʼn groef vir die res van die wedstryd.

Dit het begin toe die losskakel Curwin Bosch nie met die doelskop kon slaag nie en sy korrel windskeef gebly het.

Dit het in versengende hitte die deur vir UIster oopgelaat om met 31 – 24 te wen nadat hulle rustyd met 17 – 12 voor was.

Die Sharks was hul eie grootste vyande, want nadat hulle die bal 124 keer gehanteer het, het hulle 19 keer besit afgestaan.

Boonop het die bal te stadig by die afbreekpunte uitgekom. Waar die besoekers die bal binne sekondes beskikbaar gestel het, was die Sharks veels te stadig.

Dit het die besoekers in staat gestel om die Sharks agter die voordeellyn onder druk te plaas.

Hulle het takties ook baie beter geskop.

Die Sharks se besluitneming was ook nie na wense nie, want hulle was tussen twee vure of hulle pale toe moes skop of eerder die kantlyn moes opsoek.

Die Sharks kan nog ʼn duur prys betaal vir hul nederlaag, hoewel hulle darem twee bonuspunte gekry het nadat hulle binne sewe punte van Ulster geëindig het en vier drieë gedruk het.

Die Sharks is nou sewende en alles dui daarop dat hulle in die uitkloprondes of teen die Stormers in Kaapstad sal moet speel of oorsee sal reis.

Punte: Ulster 31 (17): Drieë: Tom Stewart (2), Stewart Moore, Harry Sheridan. Doelskoppe: John Cooney (4). Strafdoel: Cooney.

Sharks 24 (12): Drieë: Grant Williams, Thaakir Abrahams, Ntuthuko Mchunu, Boeta Chamberlain. Doelskoppe: Curwin Bosch (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.