Van hospitaalbed tot 100 m-kampioen

Nathan Pretorius op volle vaart. Foto: HTS Middelburg.

Die 15-jarige Nathan Pretorius het een droom. En dit is om vinnig te hardloop.

Tog was dié droom so byna aan skerwe toe hy op vierjarige ouderdom met ernstige breinvliesontsteking gediagnoseer is. Hy was lank sonder suurstof en sy hart het twee keer gaan staan terwyl hy in ’n koma was.

Dokters het ook gesê hy sal waarskynlik vir die res van sy lewe in ’n rolstoel wees en as verstandelik gestremd geklassifiseer word.

Maar een oggend het hy sy wenkbrou gelig en kort daarna sy oë oopgemaak. Hoewel hy weer van voor af moes leer loop, eet en praat, het hy elke dag sterker geword om weer sy plek by die wegspringblokke in te neem.

Hy het destyds vir sy ma gesê hy het gedroom hoe die Here hom gesond sal maak en saam met hom sal hardloop.

Tog neem die lewe soms ’n vreemde wending en pas ná die SA Kampioenskap in 2015 is Nathan wéér in die hospitaal opgeneem. Dié keer met ernstige longinfeksie.

Hy is in die noodeenheid in Middelburg opgeneem, aan ’n asemhalingmasjien gekoppel en ná ’n ruk gestabiliseer.

Hy het die Mpumalanga Kampioenskap gewen in ’n tyd van 10.85 s. Foto: HTS Middelburg.

Toe hy een oggend wakker word en wou opstaan, het hy neergeval: hy kon wéér nie loop nie. Nathan het al sy spiermassa verloor en was letterlik net vel en been. Hy moes stadig maar seker weer met hulp leer loop en sy krag opbou.

“Ek kon destyds nie my bene hoër as my heupe gelig het nie. Maak nie saak hóé hard ek probeer het nie, dit wou net nie hoër nie. In my kop het ek geweet hoe om te hardloop, maar my bene wou eenvoudig net nie saamspeel nie,” het hy gesê.

Hy was egter vasberade om te hardloop en het nooit gaan lê nie.

In sy eerste seisoen terug op die atletiekbaan het hy gedurende een van die wedlope ’n brons medalje losgehardloop – waarskynlik die medalje waarop hy die trotsste is, want dit het hom weer moed gegee om deel te neem.

Hy het geweet hy kan dit doen.

Druk die versnelknoppie nou na 9 Maart 2019 en die 15-jarige Nathan is pas gekroon as die Mpumalanga-kampioen in die 100 m.

Hy het Saterdag in Secunda ’n spogtyd van 10.85 s gehardloop, byna 0.2 s vinniger as die atleet in die tweede plek.

Sy harde werk en vasberadenheid om ’n sukses van sy lewe te maak, is ’n voorbeeld vir vele ander.

“Moet nooit tou opgooi nie, maak nie saak wat ander sê, of wat hulle mening mag wees nie. Bly nederig en moet jouself nie uit jou eie probeer verhef nie; die Here sal daarvoor sorg.”

Mpumalanga se 100 m-uitslae (seuns o. 15):

  1. Nathan Pretorius (10.85 s)
  2. Ntshepela (11.06 s)
  3. Sicelo Shungube (11.19 s)
  4. Rikhotso Mbuyelo (11.28 s)

Brian Manzini (11.33 s)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gallie ·

Baie geluk met jou wonderlike prestasie Nathan. Jy is ‘n voorbeeld vir oud en jonk en met hierdie gawe van ons Hemelse Vader sal jy dit nog ver bring. Werk altyd hard en glo. Enige ouer se trots.

Maria ·

Ek is so trots op jou jong man….ek glo ook aan sport….is die beste ding om te doen alhoewel jy gesondheid probleme het. Tannie oud 50 glo nou nog daaraan om aantehou sport doen en dit help my geweldig teen swak gesondheid. Hou aan …glo in jou drome.

Ek gil dit uit! ·

BAIE geluk jy is regtig ‘n wenner! Jy gaan ver kom in die lewe met jou pragtige gesindheid. Sterkte vorentoe, ons hoop om nog baie van jou te hoor!

Lijlanie Stander ·

Ek ken hierdie jongman persoonlik – bloed van my bloed – my susterskind! Ek is een van die wie al van voor sy geboorte af vir hom bid en saam my sussie deur baie trane ons kniee deur gebid het. Nathan, jy bly my super ster – gemaak om te skyn. Ek is so dankbaar, so trots, so lief vir jou!

voiceheal ·

Na leiding is daar heerlikheid en oorwinning! Baie geluk Nathan. Jy is meer as ‘n oorwinnaar!

Lana ·

Fantasties, Nathan. Só lyk dit wanneer jy God toelaat om saam te hardloop!!

Die Leeu ·

Nathan, mag jy S.A se volgende top 100m alteet word en selfs die Olimpiese Spele wen. Gebruik dan daardie bekendheid en roem om jou positiewe gesindheid, deursettingsvermoë en Christelike waardes by jou aanhangers te kweek. Ons kyk uit vir jou in die toekoms.

Gerhard Swarts ·

YES PLEASE!!! LOVE IT! LOVE IT LOVE IT!! Great Stuff Nathan. Bly so nederig en moenie ophou droom nie!! Always look up!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.