Van Karoolam tot rugby en paella in Spanje …

Dean Rossouw op die aanval in Spanje. Foto: verskaf.

UE Santboiana is een van Spanje se oudste rugbyklubs – in 2021 vier hy sy 100ste bestaansjaar. En in plaas daarvan om net bulgevegte en paella op die feesvierprogram te sien, kan jy dalk ’n verdwaalde braaivleisvuurrokie ook sien trek.

Want daar is ’n Suid-Afrikaner van Beaufort-Wes in hul midde wat amok maak in sy rooi skrumpet.

Dean Rossouw se rugbystorie neem hom van sy skooldae in die Groot-Karoo na Varsitybekerpret in Bloemfontein en Curriebekergroepe, tot ’n uiteindelike Spaanse avontuur. En jy kry die idee dat dié storie nog vér van klaar is.

“Die rugby in Spanje is werklik lekker en jy weet letterlik nooit wat om te verwag nie: die een wedstryd speel jy in ’n modderbad en die volgende een is op ’n kunsmatige oppervlak.”

Rossouw is sedert September 2018 in Spanje, maar voorheen het hy sy stempel op Suid-Afrikaanse rugby afgedruk – nie té sleg vir iemand wat van ’n klein skool in die Karoo afkomstig is nie.

Hy het onder meer vir die Griffons en die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (as kaptein) uitgedraf. O ja, hy was ook in die Cheetahs se groep vir die Curriebeker.

Sy trotsste rugbyoomblik was juis in Varsitybekerkleure.

“In 2016 was ek nie eens in CUT se span vir die openingswedstryd teen Stellenbosch nie. Maar ek het wel speelkans in die tweede wedstryd gekry.”

Dié oopkantflank speel met vuur en passie in Spanje. Foto: verskaf.

En die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Hy is daarna benoem in die Player that Rocks-kategorie en in die Vrystaters se Curriebekergroep opgeneem. Nogal so tussendeur die studieprogram – hy moes in ’n stadium 360 km ry om rugbyoefening en leerwerk te balanseer.

Om sy plek in ’n span oop te beur is nie ’n vreemde konsep vir Rossouw nie en sy kanniedood-houding maak van hom ’n aanwins vir enige span – hetsy Suid-Afrikaans óf Spaans. Hoewel hy die Grant Khomo-span vir die SWD Arende gehaal het, het ’n besering in sy matriekjaar gesorg dat hy Cravenweek-skoolglorie misgeloop het.

“Ek werk hard om weekliks ’n beter speler te wees. Mens het ’n droom om eendag topvlakrugby te speel – maak nie saak of dit Superrugby of Pro14 is nie. Maar as Christen het ek vrede in my hart dat alles sý wil is – alles gebeur immers ten goede.”

En sy storie het hom tans na die hartjie van Spanje geneem. Waar rugby dalk nie só groot is nie, maar die spelers se harte warm klop vir hul spanne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Grootste Fan ·

Heerlike lees materiaal. Harde werk
Trots op jou
Die beste kom uit die Karoo uit

Annelene ·

Ek love die manier hoe hierdie berig geskryf is. Johann Gresse jy kan ‘n storie skryf

Adriaan ·

Heerlike positiewe artikel oor Beaufort-Wes in die Karoo. Dankie Johann vir jou pragtige artikel.

Adriaan ·

Pragtige positiewe artikel oor Beaufort-Wes in die Karoo. Dankie Johann vir jou pragtige artikel. RUGBY is lekker.

DR ·

Baie geluk Dean,,, weet jys n yster. Thx vi jou vriendskap met Tim,, gaan groot, ek het nog altyd in jou geglo.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.