Van kinderhuis tot wenpodiums

Lebo Ndlovu het ’n rits medaljes al verower. Foto: Facebook.

Vergeet vir ’n oomblik van die vier goue medaljes wat Lebo Ndlovu verlede jaar by die Wêreld Taekwondo Ekspo in Little Rock in die VSA verower het, want dié jong ster verdien goud op die grootste verhoog van almal: die lewe.

Die 20-jarige Ndlovu se storie is iets wat rolprentvervaardigers waarskynlik tot Oscar-glorie kan inspireer. Tans woon dié jong man in Middelburg in Mpumalanga, maar dit was ʼn lang en dikwels uitdagende pad wat hom tot hier gebring het.

“Moenie bekommer nie, ek praat maklik!” sê hy in foutlose Afrikaans toe hy oor sy verlede uitgevra word.

Ndlovu is oorspronklik van Lesotho, maar hy en sy broers is in 2009 na die Kosmos Kriel Kinderhuis in Mpumalanga geneem. En dit is híér waar sy inspirerende verhaal begin.

“Ek het ’n Afrikaanse vriend in Kriel gehad – Kiewiet – en hy kon baie goed Zoeloe praat. Ons het elke aand bymekaar gekom om stiltetyd te hou; hy het vir my sy Afrikaanse Bybel gegee om te lees en ek het vir hom my Zoeloe Bybel gegee. Só het hy my nie net Afrikaans geleer nie, maar my ook aan die Here voorgestel, want ek is in ’n omgewing gebore waar daar nie rêrig geglo is nie.”

’n Rukkie daarna moes hy na ’n ander kinderhuis gaan en hy het die bestuur gevra om hom in ’n Afrikaanse laerskool te plaas.

“Al kon ek toe net van die bord afskryf, was dit vir my ’n lekker uitdaging om meer te leer en te lees.”

Hy is op vleuel vir die o.12 Pumas gekies en hy het destyds pas van die nasionale week teruggekeer toe hy die onstellende nuus gekry het dat sy ma oorlede is. Sy het kanker gehad.

Maar Ndlovu het ’n passie vir die lewe en dit word nie sommer geblus nie: Hy wil graag eendag behoeftige kinders bystaan.

“Ek is absoluut mal oor kinders en ek sal graag ’n maatskaplike werker wil word. Hulle [maatskaplike werkers] het my al so baie in my eie lewe gehelp; ek sal graag kinders wil bystaan wat deur soortgelyke dinge gaan as waardeur ek gegaan het,” sê hy.

“Sport lê my ook baie na aan die hart en ek droom om eendag my eie taekwono-klub te open. Ek help nou juis met rugbyklinieke hier onder Middelburg se laerskoolkinders, maar dit is as ’n instrukteur waar ek glo dat ek die grootste verskil in jong mense se lewens kan maak.”

Hoewel hy eintlik ’n kranige atleet en rugbyspeler is, het hy dié sportsoorte prysgegee om uitsluitlik op taekwondo te konsentreer.

Hy skaaf gereeld aan sy vaardighede. Foto: Facebook.

“Ek oefen vyf dae per week by Konrad’s Taekwondo Academy en dit leer my dinge soos selfdissipline en ’n bietjie selfverdediging. O ja, dit verbeter ook sonder enige twyfel jou selfbeeld,” sê Ndlovu.

“Om taekwondo te doen moet jy fíks wees – jy is immers die hele tyd gedurende die geveg op jou voete. Maar kyk, ek smaak my pens kwaai; ek wens net so af en toe dat ek ’n bietjie minder van hom gehad het!” sê hy terwyl hy lekker lag.

“Ek wil ander inspireer deur wat ek doen. Jong mense moet besef dat die enigste manier om voluit te lewe, is om hul harte vir die Here te gee. Dán het jy niks om oor te worry nie.”

Een ding is duidelik, as daar meer van Ndlovu se kaliber in die land was, sou taekwondo nie net ryker gewees het nie, maar ook die hele Suid-Afrika.

  • Ndlovu het met sy taekwondo vir drie jaar die Mpumalanga-span gehaal en is verlede jaar vir die nasionale span gekies wat in Amerika in aksie was. Dáár het hy vier goue en een silwer medalje verower.
  • Hy is nog skool op Middelburg. “Dit maar omdat ek van een provinsie na die ander geskuif het en die onderrigtaal ook gereeld verander het (hy kan ses tale praat). Een jaar kon my ma my ook nie skool toe stuur nie, want daar was net nie geld vir klere of vervoer nie.”
  • Buiten sy afrigtingsessies speel hy ook graag kitaar in sy vrye tyd. “Ek wens net soms my stem kon saamspeel!”

Hy droom om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre Fouche ·

Ag tog n goeie storie…. geluk, ek wens net daar was meer soos Lebo en Kiewiet in ons land!

Erika Maree ·

Baie Mooi Lebo! ?? ons is trots op jou en op Konrad ?

Maria ·

Dankie vir jou mooi storie. Jy het n mooi hart en volg jou hart. Mag Here jou seen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.