Vandag se sportnuus

Olimpiese Spele

Die IOK se visepresident, John Coates, is vir drie dae in Japan om te loer na die voorbereidings vir die 2020 Olimpiese Spele. Hy het dit weer onderstreep dat die IOK daarop fokus dat koste besnoei moet word.

Atletiek

Suid-Afrika se Wayde van Niekerk het gisteraand in Ostrava aan die 300 m deelgeneem, en vir nóg ʼn nuwe wêreldrekord gesorg. Van Niekerk het Michael Johnstone se rekord van 30.85 oortref. Sy tyd was 30.81 sekondes. Dit is ook veel vinniger as die byeenkomsrekord van Usain Bolt van 30.97 sekondes.

Rugby

Die Britse en Ierse Leeus speel Saterdag in hul tweede toets van hul toer deur Nieu-Seeland. Dié kragmeting teen die All Blacks word in Wellington gespeel. Die swarttruie het die eerste toets gemaklik met 30-15 gewen.

In die Superrugby-reeks word daar dié naweek vier wedstryde afgehandel.

Die Cheetahs het goeie en slegte nuus ontvang. Torsten van Jaarsveld sal vir agt weke op die kantlyn wees weens ʼn nekbesering. Drie Blitsbokke sal hulle by die Cheetah-kamp aansluit. Hulle is Chris Dry, Rosco Speckman en Cecil Afrika.

Die Bulls het op hul beurt vir Tony Jantjies op losskakel gekies vir die stryd teen die Sharks in Durban. Die Sharks het vir Curwin Bosch op heelagter ingesluit, terwyl Jean-Luc du Preez en Beast Mtawarira ʼn ruskans geniet.

Gholf

Die Franse Ope begin vanoggend in Parys en 15 Suid-Afrikaners sal hul staal toon. Dit sluit spelers in soos Hennie Otto, Trevor Fisher jr, Haydn Porteous, George Coetzee, Dean Burmester en Jaco van Zyl.

In die Amerikaanse PGA-reeks sal Tyrone van Aswegen van vandag af by die Quicken Loans National in aksie wees.

Krieket 

Die Proteas se opwarmingswedstryd teen Engeland se Lions begin vanoggend op die County Ground in Worcester. Die wedstryd duur tot Saterdag.

Vrouekrieket

By die IKR se Wêreldbeker vir Vroue moes die Proteas gister teen Nieu-Seeland speel. Reën het egter verhoed dat enige spel moontlik was en die wedstryd is afgestel, sonder dat ʼn enkele bal geboul is.

Vandag word daar twee wedstryde gespeel. Indië pak die Wes-Indiese Eilande, terwyl Australië en Sri Lanka kragte sal meet.

Tennis

By die Aegon Internasionale Toernooi in Eastbourne was al die topgekeurde spelers in aksie. Van die uitslae lyk só:

  • In die vroue-enkelspel het die eerste gekeurde, Angelique Kerber, drie stelle nodig gehad om vir Kristýna Plíšková met 4-6, 6-1 en 7-5 huis toe te stuur.
  • In die mansafdeling het die eerste gekeurde, Novak Djokovic, maklik in twee stelle met Vasek Pospisil afgereken. Die telling was 6-4 en 6-3.

Fietsry

Die 104de Tour de France-fietswedren begin Saterdag in München, met ʼn individuele tydtoets oor 14 km. Sondag se tweede skof is 206 km lank.

Motorwedrenne

Die Duitse Moto GP word Sondag gejaag. Marc Marquez glo dat hy sy posisie op die punteleer kan verbeter omdat hy reeds baie sukses op die Sachsenringbaan behaal het. Om die waarheid te sê, die Spanjaard het die laaste vier wedrenne op dié baan gewen.

Sokker

In gisteraand se eerste halfeindwedstryd van Fifa se Konfederasiebeker het Portugal teen Chili te staan gekom. Die wedstryd het gelykop geëindig met nul elk. Chili het die eindstryd gehaal deur die doeluitskietstryd met 3-0 te wen.

Die tweede halfeindwedstryd word vanaand gespeel wanneer Duitsland en Mexiko mekaar takel. Die wedstryd begin om 20:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.