Vandag se sportnuus

Gholf

Die 146ste Britse Ope-gholftoernooi se eerste ronde is op Royal Birkdale in Engeland voltooi. Drie Amerikaners is die gesamentlike voorlopers.

Fietsry

Die Tour de France-fietswedren se 18de skof oor 178 km, is gister voltooi. Die draer van die geeltrui, Chris Froome, het sy laaste groot toets van die toer geslaag en sy voorsprong mooi beskerm.

Vroue-krieket

By die IKR se Wêreldbeker vir Vroue het Australië en Indië gister in die tweede halfeindwedstryd teen mekaar gespeel.

Indië               281/4 (42 bb)

Australië        245 (40.1 / 42 bb)

Indië wen met 36 lopies.

Die eindstryd word Sondag tussen Engeland en Indië beslis.

Rugby

Die uitspeelfase van die Superrugbyreeks begin vandag. Die eerste kwarteindwedstryd word vanoggend in Australië gespeel.

  • Die Stormers het die heelagter SP Marais en flank Rynhardt Elstadt terug in die beginspan.
  • Die Sharks het net een verandering aan hul beginspan gemaak. Curwin Bosch sal die nommer tien-trui oor die kop trek.
  • Die Lions het hul span onveranderd gelaat, terwyl Ruan Combrinck in sy 50ste wedstryd sal speel.

Curriebeker

Die 2017-kompetisie begin reeds vanaand en drie wedstryde word die naweek afgehandel.

Skolerugby

Gister was dag vier van vanjaar se Cravenweek vir o.18-spelers.

Swem

Die wêreldswemkampioenskap begin Sondag in Boedapest. China, wat die medaljeleer in 2015 oorheers het, gaan poog om hul dominansie voort te sit.

Atletiek

Suid-Afrika se 400m-wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk, sal vanaand in Monaco by die Diamandliga-byeenkoms in aksie wees. Usain Bolt sal ook vanaand sy staal toon.

Intussen het Bolt bekend gemaak dat hy aanstaande maand net aan die 100m- asook 4x100m-aflos, by die wêreldkampioenskap gaan deelneem. Bolt gaan nié sy 200m-titel verdedig nie. Hy hang sy spykerskoene ná die kampioenskap op.

Hokkie

By die Wêreldhokkieliga vir vroue in Johannesburg, het Suid-Afrika vir die 2018- Wêreldbeker in Londen gekwalifiseer deur Ierland te klop. Suid-Afrika het met 3-0 geseëvier en verseker hulle eindig onder die ses topspanne.

In die kompetisie vir mans speel Suid-Afrika vandag teen Japan om die negende plek.

Sokker

Bafana speel môre in die tweede kwalifiseringswedstryd van die Afrika-nasiebeker teen Botswana. Suid-Afrika het die eerste wedstryd met 2-0 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.