Vandag se sportnuus

Atletiek

Span Suid-Afrika het gister in Londen aangekom vir die IAAF se wêreldkampioenskap wat Vrydag begin. Die span sluit sewe houers van nasionale rekords in. Hulle is Akani Simbine (100 m), Wayde van Niekerk (200 m en 400 m), Antonio Alkana (110 m-hekkies), Luvo Manyonga (verspring), Lebogang Shange (20 km-stap), Carina Horn (100 m) en Caster Semenya (800 m).

Olimpiese Spele

Los Angeles het klaarblyklik die aanbod aanvaar om die 2028- Olimpiese Spele aan te bied. Dit sal meebring dat Parys die 2024-Spele huisves. Albei stede het aanvanklik hul oë op die 2024-Spele gehad.

Rugby

  • Die Superrugbyreeks bereik sy klimaks komende naweek met die eindstryd tussen die Lions en Crusaders in Johannesburg. Suid-Afrika se Jaco Peyper sal net soos verlede Saterdag weer in beheer wees van die wedstryd. Marius van der Westhuizen, Glen Jackson en Marius Jonker sal Peyper bystaan. Altesaam 62 000 toeskouers word in ʼn volgepakte stadion verwag.
  • Curriebeker

Die bepalings vir die naweek se wedstryde is aangepas om nie te oorvleuel met die Super-eindstryd nie.

Intussen het die vleuel van die Vrystaat, Ramond Rhule, aangedui dat hy voortaan sy rugby in die Westelike Provinsie gaan speel.

  • PRO14

Die Guinness PRO14-rugbytoernooi is gister bekendgestel en dit beteken dat daar nou somerrugby op plaaslike bodem gespeel gaan word. Die Toyota Cheetahs en die Southern Kings sal aan dié Noordelike Halfrond-kompetisie deelneem. Daar is spanne van Ierland, Skotland en Italië wat nou in Suid-Afrika gaan speel weens tuis- en wegwedstryde. Die 14 spanne is in twee konferensies verdeel. Elke span sal 21 wedstryde tussen September en Mei aanstaande jaar speel.

Gholf

Kom ons loer na die week se toernooie.

  • Die Wêreld Gholfkampioenskap se Bridgestone Uitnodigingstoernooi word van môre af in Akron, Ohio, gespeel.
  • In die PGA-reeks val die kollig op die Barracuda Kampioenskap in Reno, Nevada.
  • In Suid-Afrika slaan die spelers vandag af in die Sun City Uitdaging.

Motorwedrenne

Die aandag verskuif die naweek na Moto GP-aksie. Die Grand Prix van die Tsjeggiese Republiek word Sondag gejaag.

Op die jongste punteleer is Marc Marquez die voorloper.

Krieket

  • Die vierde en laaste toets tussen Engeland en Suid-Afrika begin Vrydag op Old Trafford in Manchester. Engeland loop met 2-1 voor in dié reeks.
  • Die stof wil maar net nie gaan lê in die dispuut tussen Krieket Australië en die spelers nie. Ná gister se onderhandelinge het die Toetskaptein, Steve Smith, herhaal dat daar geen toer na Bangladesj sal wees voordat ʼn ooreenkoms bereik is nie.
  • In die driehoekige eendagreeks vir A-spanne het Indië gister teen Afghanistan in Pretoria gespeel.

Indië 322/5 (50 bb)

Afghanistan 209/9 (50 bb)

Indië wen met 113 lopies.

Volgende bepalings:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.