Vandag se sportnuus

Rugby

  • Die Springbokke se agterlynafrigter, Franco Smith, het gewaarsku dat die Poemas ʼn heel ander span is as die Argentynse Jaguares wat in die Superreeks speel. In die Kampioenskapsreeks is daar net ses wedstryde en hulle is boonop versprei. Die Poemas fokus dus eers net op die eerste twee wedstryde in dié reeks wat kort na mekaar gespeel word. Die Bokke en die Poemas pak mekaar Saterdagmiddag in die Nelson Mandelabaai-stadion.
  • Nog nuus uit die Bokkamp is dat Ruan Dreyer die beseerde Frans Malherbe vervang.
  • Daar is ook onsekerheid oor die Bok-skrumskakel, Ross Cronje, wat tans sukkel met ʼn skouerbesering.
  • Vyf spelers is van die bokke se oefenkamp onthef om na hul provinsies terug te keer. Hulle is Warrick Gelant, Lizo Gqoboka, Oupa Mohoje, Francois Venter en Dillyn Leyds.

Curriebekerrugby

  • Die Bulle se heelagter, Duncan Matthews, sal nie Saterdag teen die Vrystaat uitdraf nie. Dit is nadat hy vir een week geskors is ná ʼn gevaarlike duikslag die afgelope naweek.
  • Die Lions spog met ʼn nuwe kaptein vir komende naweek se wedstryd teen die WP. Jacques van Rooyen vervang die beseerde Ryan Kankowski.

SA Skolerugby

  • Die SA Skolespan het hul wedstryd gister teen Frankryk met 13-8 verloor. Die Bokkies het baie foute gemaak op ʼn nat veld by Paarl Gimnasium. Dit was hul tweede wedstryd wat hulle in een week verloor het.

Gholf

  • Dié week is die aandag in die Amerikaanse PGA-reeks op die Wyndham Kampioenskap in Greensboro, Noord-Carolina.
  • In Europa word die Fidji-internasionale toernooi gespeel.
  • In Suid-Afrika verskuif die fokus na Arabella in die Wes-Kaap vir die Vodacom-toernooi.

Tennis

Maria Sharapova van Rusland, vyf keer die Grand Slam-kampioen, sal in haar eerste Grand Slam-toernooi in aksie wees ná haar skorsing van 15 maande na die gebruik van opkikkers. Die 30-jarige Sharapova het ʼn uitnodiging van die organiseerders van die VSA Ope gekry.

Krieket

  • Engeland en die Wes-Indiese Eilande speel van môre af in hul eerste dag-aand toets teen mekaar op Edgbaston. Die wedstryd sal met ʼn pienk bal gespeel word. Engeland het die afgelope toetsreeks teen Suid-Afrika met 3-1 gewen.
  • Suid-Afrika-A het Indië-A gemaklik met 235 lopies in hul vierdagwedstryd geklop. Stephen Cook is as speler van die wedstryd aangewys na sy 120 lopies in die eerste beurt.

Fietsry

Mikel Landa het besluit hy gaan Team Sky verlaat en het ʼn tweejaarkontrak met Movistar gesluit. Die 27-jarige Landa het vierde in vanjaar se Tour de France geëindig.

Kanovaart

Na dié naweek se Suid-Afrikaanse plat-waterkampioenskap is daar 73 bote gekies om aan die Wêreldkampioenskap in September deel te neem. Hank McGregor en Andy Birkett, wat verlede jaar in Duitsland presteer het, is weer in die K1- en K2- span vir vanjaar.

Sokker

Bafana Bafana het tien ontrekkings gehad van spelers voor hul tweede CHAN-kwalifiseringskragmeting teen Zambië. Goeie nuus is egter dat Kaizer Chiefs nog drie spelers beskikbaar gemaak het vir dié kragmeting. Hulle is Khotso Moleko, Sibusiso Khumalo en Siya Ngezana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.