Vandag se sportnuus

Netbal

Die sewende en laaste ronde in die Varsitybeker-reeks is eergister afgehandel. Die Pukke het boaan die punteleer geëindig. Die halfeindstryde word komende Maandag gespeel.

 

Rugby

  • Nuus uit die Bokkamp is dat die assistant-afrigter, Franco Smith, voorspel dat die Bokke hard gaan terugveg ná hul groot nederlaag teen die All Blacks. Die Bokke speel Saterdag teen Australië in Bloemfontein. Intussen is drie spelers vrygestel om na hul provinsies terug te keer. Hulle is Dan du Preez, S’busiso Nkosi en Raymond Rhule.
  • Curriebeker

Die Leeus het drie veranderinge gemaak vir hul wedstryd Vrydag teen die Haaie in Durban. Die drie spelers wat ingesluit is, is Rhyno Herbst, Fabian Booysen en Aphiwe Dyantyi.

Tennis

  • Op die jongste Mansranglys van die wêreld is Rafael Nadal steeds die topspeler.

  • Op die Vroueranglys is Garbine Muguruza steeds nommer een.

Motorwedrenne

  • Formula Een verloor een van sy moeilikste wedrenne wanneer die Maleisiese GP komende naweek vir die laaste keer gejaag word. Driemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het gesê dis ʼn groot slag vir dié sport.

Gholf

  • Op die jongste wêreldranglys is Dustin Johnson steeds die topspeler.

  • Die Presidentsbeker-kragmeting tussen Amerika en die Internasionale span begin môre. Die toernooi word in New Jersey beslis. Steve Stricker is die VSA se spankaptein en Nick Price lei die Internasionale span, wat drie Suid-Afrikaners insluit. Hulle is Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Branden Grace.

Krieket

  • Suid-Afrika speel van môre af op Potchefstroom teen Bangladesj in die eerste van twee toetse tussen die lande. Die boulers, Chris Morris, Vernon Philander en Dale Steyn, is steeds op die kantlyn weens beserings, wat beteken dat Kagiso Rabada en Morne Morkel die snel-aanval sal lei.
  • Pakistan sal môre sonder die twee sterkolwers, Younis Khan en Misbah-ul-Haq wat uitgetree het, teen Sri Lanka in hul eerste toets speel.
  • Engeland en die Wes-Indiese Eilande speel vandag in hul vierde eendagkragmeting teen mekaar. Ben Stokes en Alex Hales sal nie vir Engeland kan speel nie ná ʼn voorval in ʼn nagklub waarin hulle betrokke was. Engeland loop met 2-0 voor in dié reeks van vyf wedstryde.

Sokker

  • Agt wedstryde is gisteraand in die UEFA-Kampioeneliga Cristiano Ronaldo het twee doele in sy 400ste wedstryd vir Real Madrid aangeteken terwyl Harry Kane ʼn driekuns vir Tottenham behaal het.

 

Nog agt wedstryde word vanaand in dié kompetisie gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.