Vandag se sportnuus

Tennis

By die Shangai Meesters lyk van die enkelspel-uitslae in die ronde van 32 só:

Die elfde gekeurde Kevin Anderson is deur die ongekeurde Jan-Lennard Struff uitgeskakel. Die eerste gekeurde Rafael Nadal het maklik met Jared Donaldson afgereken terwyl die tweede gekeurde Roger Federer hard moes werk om Diego Schwartzman uit te skakel.

In die dubbelspel het Suid-Afrika se Raven Klaasen en Rajeev Ram deurgedring na die kwarteind.

By die Hong Kong Ope vir vroue was daar twee verassings in die ronde van 16.

Die tweede gekeurde Venus Williams asook die vierde gekeurde Agnieszka Radwańska is albei uitgeskakel. 

Gholf

  • Die CIMB Classic het vanoggend in Kuala Lumpur in Maleisië begin. Justin Thomas, wat onlangs die FedEx-beker ingepalm het, gaan poog om weer dié toernooi te wen. Onder die 78 spelers is daar groot name soos Keegan Bradley en Stewart Cink asook die Suid-Afrikaners Branden Grace en Charl Schwartzel.
  • In die Europese reeks sal die spelers vandag afslaan in die eerste ronde van die Italiaanse Ope. Onder die 10 Suid-Afrikaners pronk die name van Dean Burmester, Brandon Stone en Haydn Porteous.

Krieket

  • Bangladesj sal vandag in ’n eendagkragmeting teen ’n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan speel. Die wedstryd begin om 10:00 vanoggend in Bloemfontein. Die linkerhandse draaier, Aaron Phangiso, vervang Keshav Maharaj in dié groep wat deur JP Duminy aangevoer word.

Rugby

  • In die Curriebekerreeks word die laaste rondomtalie-wedstryde komende naweek gespeel. Die Pumas het die flank Chris Cloete in hul beginspan ingesluit wat teen die Bulle speel. Die Bulle het ’n onveranderde span aangekondig vir dié kragmeting.
  • Die Leeus sal vandag bekend maak of hulle die dienste van die vyf Springbokke wat Saterdag beskikbaar is, wel gaan gebruik. Dié spelers is Malcolm Marx, Courtnal Skosan, Andries Coetzee, Ruan Dreyer en Ross Cronjé.
  • Die twee Suid-Afrikaanse spanne in die Pro14, die Cheetahs en die Kings, sal die volgende twee weke ’n ruskans geniet. Dit is terwyl die Europese spanne aan die Kampioene-trofee deelneem.
  • Die bokke se voorspeler-afrigter, Johann van Graan, is vrygestel van sy kontrak en hy sal hom by Munster aansluit as hul hoofafrigter.

Motorwedrenne

Die Moto GP van Japan se eerste oefenrondes word môre gejaag. Die voorloper in die kampioenskap, Marc Marquez, het gesê hy is gereed vir die finale fase van die reeks terwyl hy ’n aanslag maak op sy vierde titel.

Sokker

Die MTN8-eindstryd word komende Saterdag om 19:00 in die Moses Mabhida Stadion in Durban gespeel. Cape Town City sal teen SuperSport United uitdraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.