Vandag se sportnuus

Krieket

  • Indië en Nieu-Seeland het gister in hul derde en laaste T20-wedstryd teen mekaar gespeel. Reën het verhoed dat ʼn volledige wedstryd gespeel kon word en net agt boulbeurte per span kon afgestuur word.

Indië                          67/5 (8 bb)
Nieu-Seeland          61/6 (8 bb)

Indië wen met 6 lopies en verower die reeks 2-1.

  • Engeland het nog ʼn terugslag beleef net voor die reeks om die AS teen Australië begin. Steven Finn is op pad terug huis toe nadat hy sy knie beseer het. Sy plaasvervanger is Tom Curran.
  • Engeland se vierdag-toerwedstryd teen ʼn Krieket Australië-elftal begin vandag ter voorbereiding van die reeks om die AS.
  • Op die plaaslike front begin die Ram Slam T20-reeks reeds Vrydag. Daar sal R2 miljoen op die spel wees en die reeks eindig op 16 Desember. Drie wedstryde word die naweek gespeel.

JP Duminy is as kaptein van die Cobras aangewys terwyl Wayne Parnell ook moontlik vir die Kaapse span kan speel.

Rugby

  • Die November-jaareindwedstryde skop die naweek in alle erns af. Sewe wedstryde word Saterdag gespeel.
  • Die Bok-afrigter, Allister Coetzee, het gister gesê hy is nie bang vir hierdie jaar se toer nie. Dis in vergelyking met verlede jaar toe die meeste van sy spelers onfiks was en hulle al hul wedstryde verloor het, selfs teen Italië. Coetzee sê die Bokke sal Saterdag vinnig moet aanpas by die weerstoestande vir die toets teen Ierland in Dublin.

Gholf

  • Môre slaan 72 spelers af in die Nedbank-Uitdaagtoernooi op Sun City. Verlede week het Dylan Fritelli tweede geëindig in die Europese reeks en hy was gister vol selfvertroue voor môre se afskop.
  • Suid-Korea se gholfsensasie, Park Sung-Hyun, het die eerste nuweling in die LPGA-toer nog geword om as die wêreld se voorste speler gekroon te word. Die 24-jarige speler het ook haar eerste Major vanjaar gewen.

Tennis

  • Rafael Nadal se persoonlike dokter het aangedui dat hulle alles in hul vermoë doen om gereed te wees vir die ATP-toerfinaal aanstaande week in Londen. Nadal sukkel met ʼn kniebesering.
  • In die ATP-dubbelspelafdeling is Suid-Afrika se Raven Klaasen en Rajeev Ram in die negende plek in die wedloop na Londen. Die topgekeurdes is Lukasz Kubot en Marcelo Melo. Die Bryan-broers van die VSA is vyfde.

Atletiek

  • Verlede jaar se Olimpiese Vrouemarathon-kampioen, Jemima Sumgong, is vir vier jaar deur Kenia se atletiekbase geskors nadat sy positief getoets is vir ʼn opkikker. Haar skorsing is terugwerkend tot 3 April vanjaar.

Sokker

  • Bafana Bafana speel Vrydag in sy eerste van twee Fifa-wêreldbeker-kwalifiseringswedstryde teen Senegal. Die wedstryd word in die Peter Mokaba-stadion gespeel. Bafana is aan die onderpunt van die punteleer in afdeling D met vier punte ná vier wedstryde. Bafana benodig die maksimum punte van die laaste twee wedstryde om vir Rusland 2018 te kwalifiseer. Die vraag is of die nommer 1-doelwagter, Itumeleng Khune, gereed sal wees vir die kragmeting. Hy het die afgelope naweek ʼn gesigbesering opgedoen.
  • Verskeie Wêreldbeker-kwalifiseringswedstryde word komende naweek gespeel. Dit sluit onder meer Italië teen Swede in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.