Vandag se sportnuus

Swem

By FINA se Wêreldbeker in Tokio het Chad le Clos twee medaljes op die eerste dag ingepalm. Hy het in die 50 m-vlinderslag goud in 22.49 sekondes gewen met die Rus, Vladimir Morozov, wat tweede op die punteleer is in die vyfde plek. Le Clos moes egter met die silwer medalje tevrede wees in die 100 m-vryslag. Dit was Le Clos se 27ste agtereenvolgende oorwinning in die 50 m-vryslag, iets wat geen swemmer nog kon regkry nie. Die reeks word die naweek in Singapoer afgesluit met die agtste byeenkoms.

Tennis

Die ATP Toerfinale se derde dag is in Londen afgehandel. Roger Federer het die jong Alexander Zverev met 7-6, 5-7 en 6-1 geklop om te kwalifiseer vir die laaste vier. Federer het dié jaareindkroon al ses keer gewen. Jack Sock het sy drome lewend gehou deur Marin Cilic met 5-7, 6-2 en 7-6 te klop.

Rugby

  • Dis vandag D-dag vir die 2023 Rugbywêreldbeker. Die wêreld sal vandag weet wie van Suid-Afrika, Frankryk of Ierland dié toernooi sal aanbied. Die aankondiging word vroegmiddag in Londen gemaak.
  • Die Springbokke speel Saterdag in Parys teen die Franse Hane in hul eindjaartoer. Die Bokke is vyfde op die wêreldranglys en die Franse agtste.

Gholf

  • Ná die Nedbank-Uitdaagtoernooi verskuif die aandag in Europa na die DP Wêreldtoer-kampioenskap wat dié week in Dubai gespeel word. Die wenner van die wedloop na Dubai se R17 miljoen-boerpot sal ook die naweek gekroon word. Tommy Fleetwood is die voorloper op die punteleer. Hy kan nog ingehaal word deur Justin Rose, Sergio Garcia, Jon Rahm asook Tyrrell Hatton en Ross Fisher.
  • In Amerika begin die RSM Classic môre in Georgia.
  • Op die Vroue-kalender slaan die spelers môre af in die CME Groep se Toerkampioenskap in Florida, in die VSA.

Motorwedrenne

  • Ná die Braziliaanse Formule-Een Grand Prix verskuif die aandag na die laaste wedren van die jaar. Die Grand Prix van Abu Dhabi sal aanstaande naweek gejaag word.

Krieket

  • Die vierde wedstryd in die Ram Slam T20-reeks word vandag gespeel. Die Knights en die Titans pak mekaar om 18:00 vanaand in Kimberley. Beide spanne het hul eerste wedstryde gewen.
  • Engeland speel van vandag af in hul volgende opwarmingswedstryd teen ’n Aussie-elftal. Die vierdag-wedstryd word in Townsville gespeel.

Sokker

  • Nog ’n wedstryd in FIFA se Wêreldbeker-kwalifisering is gister in Europa gespeel. Denemarke het die Republiek van Ierland met 5-1 geklop.
  • Bafana Bafana het gisteraand teen Senegal te staan gekom en weer verloor. Senegal het in die laaste minuut die wendoel aangeteken om met 2-1 te wen.
  • Verskeie vriendskaplike internasionale wedstryde is gister gespeel. Duistland en Frankryk het gelykop gespeel met twee elk. Spanje en Rusland het ook ’n gelykop-uitslag gehad van drie elk. Nigerië het Argentinië met 4-2 geklop. Brasilië en Engeland se telling in die Wembley-stadion was 0-0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.