Vandag se sportnuus

Rugby

  • Die Springbokke speel Saterdag teen Wallis en sal sonder vier van hul gereelde spelers wat terug is by hul oorsese klubspanne moet klaarkom. Die grootste leemte wat gevul moet word, is dié van Duane Vermeulen en Francois Louw. Dan du Preez, Uzair Cassiem en Oupa Mohoje kan dalk in aanmerking kom om die plekke te vul. Wallis gaan ʼn moeilike neut wees om te kraak. Die Rooi Drake het teen die All Blacks die meeste balbesit asook gebiedsvoordeel gehad. Intussen is twee van die Walliesers beseer en nie vir die wedstryd beskikbaar nie. Hulle is die slot Jake Ball en die flank Justin Tipuric.
  • Die Aussie Sekope Kepu is vir drie weke geskors nadat hy Saterdag die Skotte se Hamish Watson met ʼn vlieënde skouer-stamp bygekom het. Dit was gedurende die Wallabies se pakslae van 53-24 teen Skotland.

Sewesrugby

  • Die eerste toernooi in die Wêreldreeks word Vrydag en Saterdag in Dubai gespeel. Spel sal om 07:00 Suid-Afrikaanse tyd begin. Die All Blacks bevind hulle saam met die VSA, Argentinië en Samoa in dieselfde groep. Suid-Afrika se wedstryde op dag een lyk só:
    • 08:52: Uganda
    • 12:36: Kenia
    • 17:53: Kanada

Gholf

  • In die Europese reeks slaan die spelers môre af in die Mauritius Ope wat ook deur die Sonskynreeks en Asiese-toer onderskryf word. Die wêreld se nommer 22, Louis Oosthuizen, sal ook in aksie wees. Die Britse Ope- kampioen van 2011, Darren Clarke, sal ook sy staal by die Heritage Golfklub wys. Dylan Frittelli, Nicolas Colsaerts en Jamie Donaldson se name is ook op die spelerslys.
  • In Australië is alle oë op die Goue Kus waar die Australiese PGA-kampioenskap gespeel word. Sergio Garcia is die speler waaroor almal praat.
  • Tiger Woods is die groot trekpleister in die Bahamas. Dit is waar die Hero Wêreld-uitdaging môre begin.

Krieket

  • Die eerste toets tussen Nieu-Seeland en die Wes-Indiese Eilande begin Vrydag in Wellington.
  • Die tweede toets in die Reeks om die Asse, tussen Australië en Engeland, begin Saterdag.
  • In die Ram-Slam T20-reeks word daar vanaand twee wedstryde gespeel.
29Cape CobrasvWarriorsPaarl18:00
29Highveld LionsvMultiply TitansJohannesburg18:00

 Hokkie

  • Die tweede naweek se kompetisie in die Premier-hokkieliga word Saterdag en Sondag in Randburg gespeel. Ná die eerste naweek is die Drakensberg Dragons voor in die mansafdeling. Die Blyde River Bunters gee die pas aan in die vroueafdeling.

Sokker

  • In Engeland se Premierliga is vier wedstryde gisteraand gespeel.

Manchester United het Watford met 4-2 geklop. Leicester het met Tottenham afgereken 2-1, terwyl Crystal Palace met ʼn 0-0 uitslag teen Brighton tevrede moes wees. West Bromwich Albion en Newcastle se telling was 2-2. Ses wedstryde word vanaand gespeel. Manchester City speel onder meer teen Southampton.

  • Plaaslik word die Telkom-uitdaaging se eindstryd Saterdag gespeel. Wits en Bloemfontein Celtic pak mekaar die aand om 18:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.