Vandag se sportnuus

Krieket

  • Die eerste toets tussen Suid-Afrika en Australië begin vandag in Durban. Die Aussies het dieselfde span behou wat teen Engeland in die vyfde toets gespeel het. Daar word verwag dat die snelboulers ʼn groot invloed op die reeks sal hê. Die wen van die loot is van sleutelbelang, om die eerste skuif te kan maak, in ʼn reeks wat oor vier toetse strek. Spel begin vanoggend om 10:00.
  • Die tweede Eendagwedstryd tussen Nieu-Seeland en Engeland is gister gespeel.

Nieu-Seeland           223 (49.4/50 bb)

Engeland                  225/4 (37.5/50 bb)

Engeland wen met 6 paaltjies met 73 balle oor. Die reeksteling is nou een elk.

  • In die Sunfoil-meerdagreeks begin drie wedstryde vandag.
DolphinsvCape CobrasPietermaritzburg09:30
KnightsvHighveld LionsKimberley10:00
WarriorsvTitansOos-Londen10:00

Rugby

  • Dit blyk dat Rassie Erasmus vandag aangewys gaan word as die nuwe Springbok-afrigter. Alle aanduidinge is dat Erasmus die plek van Allister Coetzee sal inneem wat op 2 Februarie sy tassies gepak het. Die finale aankondiging van SA Rugby word vandag om 13:00 gemaak.
  • In die Superrugby-reeks word daar komende naweek weer sewe wedstryde gespeel. Vrydag word twee wedstryde afgehandel en Saterdag vyf.
2BluesVChiefsEden Park08:35
2RedsVBrumbiesSuncorp Stadion11:00
3SunwolvesVRebelsPrince Chichibu Memorial Stadion06:15
3CrusadersVStormersAMI Stadion08:35
3SharksVWaratahsKings Park15:05
3BullsVLionsLoftus Versfeld17:15
3JaguaresVHurricanesEstadio Jose Amalfitani23:40
  • Sewesrugby

Suid-Afrika se Blitsbokke is die naweek weer by die wêreldreeks in aksie. Dit is die vyfde toernooi in die reeks en vind in Las Vegas plaas. Die Blitsbokke is die verdedigende kampioene. Intussen het SA Rugby aangekondig dat Castle Free voortaan die Blitsbokke, Vroue-sewes en die Akademiespan sal borg.

Tennis

  • Die Wêreld se nommereen-speler en wenner van 20 Grand Slams, Roger Federer, sê hy wil voortgaan om die eerste speler te word wat 100 toernooie wen. Federer staan tans op 97. Hy het ook ná die Laureus-sporttoekennings gesê hy glo dat Kevin Anderson ʼn Grand Slam kan wen.
  • By die Mexikaanse Ope in Acapulco het die derde gekeurde Dominic Thiem deurgedring na die kwarteind.

Gholf

  • Die Wêreld-gholfkampioenskap begin vandag in Mexiko Stad. Die huidige nommereen-speler in die wêreld, Dustin Johnson, is die gunsteling om ʼn vyfde Wêreld-gholfkampioenskap te verower. Ses van die wêreld se toptien spelers sal in aksie wees.
  • In die Europese reeks begin die Tshwane Ope ook vandag. Die eerste spelers is om 06:40 op die bof. Die 156 spelers, wat 68 Suid-Afrikaners insluit, sal meeding om R15 miljoen prysgeld. Van die groeperings vir die eerste twee rondes sluit in dat Haydn Porteous en Thomas Aiken saam sal afslaan. Trevor Fisher Junior en Christiaan Bezuidenhout speel saam terwyl George Coetzee en Erik van Rooyen mekaar geselskap sal hou.

Atletiek

Die eerste Grand Prix-atletiekbyeenkoms word vanaand op die Ruimsigbaan, in Roodepoort, aangebied. Daar sal drie byeenkomste in die reeks wees met ʼn prysgeld van R1 365 000. Anaso Jobodwana is een van die naellopers wat sy staal in die 200 m sal toon. Die wêreld se 10 000 m-silwermedaljewenner, Joshua Cheptegei, sal aan die 1 500 m deelneem. In die hoogspring vir mans is alle oë op die jong Breyton Poole wat spog met ʼn hoogte van 2.25 m.

Sokker

  • In die plaaslike Premierliga is een wedstryd gisteraand afgehandel.

Ajax Cape Town         2-0       SuperSport United

  • In die Engelse FA-beker is een wedstryd gisteraand gespeel.

Tottenham Hotspur    6-1       Rochdale

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.