Vandag se sportnuus

Krieket

  • Die Derde Kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië begin vanoggend om 10:00 op Nuweland in Kaapstad. Die wedstryd sal op dieselfde baanblad gespeel word as die een wat gebruik is vir die Nuwejaarstoets teen Indië. Dié toets was in bykans drie dae verby met 40 paaltjies (19 lopies per paaltjie) wat geval het terwyl net 760 lopies aangeteken is. Volgens die baanopsigter sal die baanblad dié keer nie so lewendig wees nie en hy voorsien dat daar moontlik vyf dae spel kan wees. Die reekstelling is een elk.
  • Die laaste wedstryde in die seisoen se Sunfoil-meerdagreeks begin vanoggend. Die voorste drie spanne op die punteleer het almal wegwedstryde.
Dolphins (5)vWarriors (1)Kingsmead, Durban09:30
Highveld Lions (6)vCape Cobras (2)Senwes Park, Potchefstroom10:00
Titans (4)vKnights (3)SuperSport Park, Centurion10:00

Rugby

  • Al vier Suid-Afrikaanse spanne sal die naweek weer Superrugby speel met net die Stormers wat ʼn tuiswedstryd het.

Die Crusaders het vyf veranderinge aan hul beginspan gemaak wat die Bulls môre om 08:35 pak.

Die Rebels het sewe veranderinge aan hul span aangebring wat môre om 10:45 teen die Sharks uitdraf.

23CrusadersvBullsAMI Stadion08:35
23RebelsvSharksAAMI Park10:45
24SunwolvesvChiefsPrince Chichibu Memorial Stadion06:15
24HurricanesvHighlandersWestpac Stadion08:35
24StormersvRedsDHL Newlands17:15
24JaguaresvLionsEstadio Jose Amalfitani23:40
  • In die Pro14-kompetisie word drie wedstryde môre gespeel en Saterdag sal vier wedstryde afgehandel word.
23Newport Gwent DragonsvCheetahsRodney Parade21:35
23Glasgow WarriorsvZebreScotstoun Stadion21:35
23ConnachtvEdinburghSportsground21:35
24KingsvBenettonNelson Mandela Baai Stadion15:00
24Cardiff BluesvUlsterCardiff Arms Park17:15
24MunstervScarletsIrish Independent Park19:30
24OspreysvLeinsterLiberty Stadion21:35

Atletiek

  • Die derde en laaste Grand Prix-byeenkoms word vanmiddag in die Paarl aangebied. Carina Horn het verlede week die nasionale rekord in die 100 m verbeter en dit sal interessant wees om te sien of sy selfs nog beter kan vaar. Caster Semenya sal ook haar staal toon in die 1 500 m.

Die hoofprogram begin vanmiddag om 17:45 en duur tot 19:00. Kaartjies kan by www.webtickets.co.za gekoop word. 

Fietsry

  • Die Absa Cape Epic-fietstoer se derde skof oor 122 km van Robertson tot in Worcester is gister deur Alban Lakata (Oost) en Kristian Hynek (Tsjeg, Canyon Topeak) gewen. Die nuwe algehele voorlopers is Jaroslav Kulhavy (Tsjeg) en Howard Grotts (VSA, Investec-Songo-Specialized) wat tweede in die skof was.

In die vroue-afdeling is daar net geen keer aan Annika Langvad (Den) en Kate Courtney (VSA, Investec-Songo-Specialized) nie. Hulle het dié skof ook oorheers en met meer as vyf minute gewen. 

Motorwedrenne

  • Die eerste wedren in vanjaar se Formule Een Grand Prix-reeks word Sondag gejaag. Lewis Hamilton (Mercedes) is die groot gunsteling om die Australiese Grand Prix te wen. Die eerste oefenrondes sal reeds môreoggend om 02:45 Suid-Afrikaanse tyd begin. Die hoofwedren begin Sondagoggend om 07:00. 

Tennis

  • Suid-Afrika se span vir die Federasiebeker-kragmeting teen Montenegro van 16 tot 21 April is bekend gemaak. Chanel Simmonds, Madrie le Roux, Katie Poluta, Minette van Vreden en Lungile Ntuli sal Suid-Afrika verteenwoordig. 

Gholf

  • Die Wêreldgholf-kampioenskap se putjiespel-toernooi het gister in Austin, Texas, begin. In die eerste ronde het 16 groepe van vier spelers elk in ʼn rondomtalie teen mekaar gespeel. Dustin Johnson en Rory McIlroy het albei hul eerste ronde wedstryde verloor. Louis Oosthuizen het sy wedstryd teen Jason Dufner gewen, maar Branden Grace, Charl Schwartzel en Dylan Frittelli het pak gekry. 

Sokker

  • Suid-Afrika het gister vir Angola in die Vier Nasies-toernooi met 6-5 in ʼn doeluitskietstryd geklop nadat die telling 1-1 was ná 90 minute.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oom Kalahari ·

Hhhmm….ja as Casper net teen die regte atlete kon deelneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.