Vandag se sportnuus

Krieket

  • Suid-Afrika se superkolwer, AB de Villiers, het gister sy uittrede uit alle vorme van internasionale krieket aangekondig. Dié besluit is dadelik van krag. De Villiers was een van die grootste spelers nóg wat vir Suid-Afrika gespeel het. Hy het in 114 toetse, 228 eendagwedstryde en 78 keer in T20-wedstryde gespeel. Sy loopbaan het oor veertien jaar gestrek.
  • Intussen is Shaun Pollock as mediaverteenwoordiger van die Internasionale Krieketraad aangestel.
  • In die Indiese Premierliga is die uitklopwedstryd tussen die Kolkata Knight Riders en die Rajasthan Royals gister afgehandel.

Kolkata Knight Riders 169/7 (20 bb)
Rajasthan Royals 144/4 (20 bb)

Kolkata Knight Riders wen met 25 lopies. 

Superrugby

  • Die Bokgroep wat Suid-Afrika in die volgende maand gaan verteenwoordig word Saterdagaand aangewys.
  • Al vier Suid-Afrikaanse spanne is die naweek in aksie.

Môre

9:35 Crusaders teen Hurricanes
11:45 Rebels teen Sunwolves
21:40 Jaguares teen Sharks 

Saterdag

9:35 Chiefs teen Waratahs
11:45 Reds teen Highlanders
15:05 Vodacom Bulls teen Brumbies
17:15 Stormers teen Lions 

Sewesrugby

  • Die Blitsbokke speel aanstaande naweek in die negende toernooi van die Wêreldreeks in Londen. Suid-Afrika is tans tweede op die punteleer na Fidji. Daar is net 4 punte verskil tussen die twee spanne.
  • Botswana sal die gasheerland wees vir die Afrika-toernooi vir vroue wat Saterdag en Sondag aangebied word. Tien spanne sal in aksie wees.

Tennis

  • Rafael Nadal is eerste gekeur vir die tweede Grand Slam van die jaar, die Franse Ope. Die toernooi strek oor twee weke en begin Sondag op Roland Garros in Parys. Roger Federer is tweede op die wêreldranglys, maar hy speel nie in die kleibaan-seisoen nie.

Atletiek

  • Die derde Diamantliga-byeenkoms word môre en Saterdag in die VSA aangebied. Caster Semenya sal in die 800 m poog om weer ’n tyd van onder die twee minute aan te teken. Daar sal ook vuurwerke wees in veral die 100 m vir vroue en die hoogspring vir mans. 

Junior Bokke

  • Die Junior Springbokspan speel aanstaande week in Frankryk in hul eerste wedstryd van die Wêreld-o.20-kampioenskap.

Pro14

  • Die Scarlets en Leinster pak mekaar Saterdag in die eindstryd van die Pro14-kompetisie in Stuart Berry van Suid-Afrika sal die fluitjie hanteer.

Motorwedrenne

  • Die sesde wedren in vanjaar se Formule Een-reeks word Sondag gejaag. Die Monaco Grand Prix begin Sondag skuins na 15:00 die middag. 

Gholf

  • In Amerika is die aandag dié week op die Fort Worth-uitnodigingstoernooi in Texas.
  • In Europa slaan die spelers vanoggend af in BMW se PGA-kampioenskap by die Wentworth-klub in Surrey. Dylan Frittelli het verlede jaar sy buiging by dié toernooi gemaak en hy sal baie hard daaraan werk om sy posisie op die wêreldranglys hierdie week verder te verbeter.

Netbal

  • Die Brutal Fruit Premierliga word die naweek voortgesit. Na die eerste twee rondes is net twee spanne nog onoorwonne. Die Gauteng Jaguars en die Free State Crinums  het al vier hul wedstryde tot dusver gewen. Die Western Cape Southern Stings is tans derde op die punteleer en die North West Flames vierde.

Sokker

  • Die Uefa-kampioeneliga se eindstryd word Saterdag tussen Real Madrid en Liverpool gespeel.
  • Bafana Bafana se afrigter, Stuart Baxter, het sy groep van twintig spelers aangewys wat Suid-Afrika in die Cosafa-beker in Polokwane gaan verteenwoordig. Die toernooi begin Sondag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wurmpie ·

Wat gaan aan by die Supersport storie van Willemse. Kan ons weer inligting kry
Dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.