Vandag se sportnuus

Sewesrugby

  • Die laaste toernooi van die wêreldreeks is die naweek in Parys gespeel en die Blitsbokke is vir ʼn tweede jaar agtereenvolgens as die wêreldkampioen gekroon. Die Blitsbokke het eers die B-afdeling in die groepfase gewen, in die kwarteind vir Spanje (15-10) geklop en daarna met Nieu-Seeland (24-12) in die halfeind afgereken. Die Blitsbokke moes die eindstryd teen Engeland wen om as toernooikampioen en as wêreldkampioen gekroon te word. Die Bokke het in reën byna die onmoontlike vermag en met 24-14 koning gekraai. Fidji, wat die voorloper in die reeks was, is in die kwarteind uitgeskakel.

Bokrugby

  • Die Springbokke het Saterdag in die eerste toets teen Engeland in Johannesburg gespeel en was ná 17 minute met 24-3 agter. Die Bokke het egter mooi teruggeveg om die wedstryd met 42-39 te wen. Faf de Klerk was die speler van die wedstryd. Komende Saterdag word die tweede toets in Bloemfontein gespeel. Ox Nche, Jason Jenkins, Kwagga Smith, Nizaam Carr, Travis Ismaiel, Curwin Bosch en Cameron Wright is intussen vrygestel van hul Bokgroep-verpligtinge. Trevor Nyakane is op sy beurt beseer.

Junior Bokke

  • Die Wêreld-o.20-kampioenskap se halfeindstryde word môre gespeel. Suid-Afrika speel teen Engeland en Nieu-Seeland kom teen Frankryk te staan.

Tennis

  • Die twee topgekeurde spelers by vanjaar se Franse Ope op Roland Garros het Saterdag en Sondag met die louere weggestap. Rafael Nadal en Simona Halep het onderskeidelik die tweede Grand Slam van die jaar se mans- en vrouetitels gebuit.
    • In die mansenkelspel het (1) Rafael Nadal teen (7) Domic Thiem gespeel. Dit was eenrigting-verkeer vir Nadal. Hy het in skoon stelle met 6-4, 6-3 en 6-2 geseëvier om sy 11de Franse Ope-titel te verower.
    • In die vroue-afdeling het (1) Simona Halep en (10) Sloan Stephens Saterdag skouers geskuur en dit was Halep wat haar eerste Grand Slam-titel verower het. Halep het die eerste stel verloor, maar voortgegaan om die volgende twee stelle te wen om die titel te verower. Die teling was 3-6, 6-4 en 6-1.

Atletiek

  • Die sesde byeenkoms in die Diamantliga-reeks is gister in Stockholm aangebied. Luvo Manyonga het derde in die verspring geëindig ná ʼn sprong van 8.25 m. Ruswahl Samaai was vierde met 8.20 m. Luxolo Adams het in die 200 m uitstekend gevaar en ʼn bronsmedalje losgehardloop. Sy tyd was 20.36 sekondes.
  • Die 2018-Comrades-marathon is gister tussen Pietermaritzburg en Durban gehardloop. Die verdedigende manskampioen, Bongmusa Mthembu, het die eerste atleet sedert 1988 geword om sy titel suksesvol te verdedig. Mthembu se wentyd was 5 uur 26 minute en 33 sekondes. Die vroue-afdeling is deur Ann Ashworth in 6 uur 10 minute en 4 sekondes gewen.

Motorwedrenne

  • Die Kanadese Formule Een Grand Prix is gisteraand gejaag. Sebastian Vettel het in sy Ferrari geseëvier. Dit was Vettel se 50ste oorwinning van sy loopbaan en hy is ook boonop die nuwe voorloper op die punteleer. Ferrari kon laas in 2004 in Kanada seëvier. Valtteri Bottas (Mercedes) was tweede en Max Verstappen (Red Bull) derde.

Gholf

  • In Amerika is die Jude Classic in Memphis afgehandel.

1 Dustin Johnson -19

2 Andrew Putnam -13

3 J.B. Holmes -9

6 Retief Goosen -7

  • In Europa het die Shot Clock Meesters ook gister in Oostenryk ten einde geloop.

1 Mikko Korhonen -16

2 Connor Syme -10

3 Raphaël Jacquelin -9

Steve Webster -9

 Justin Walters -9

 Nicolas Colsaerts -9

Netbal

  • Twee wedstryde is gister tydens die Brutal Fruit Premierliga in Pretoria gespeel.

Mpumalanga Sunbirds 39–35 Easter Cape Aloes

Limpopo Baobabs 71–40 Northern Cape Diamonds

Krieket

  • Die eerste toets tussen Sri Lanka en die Wes-Indiese Eilande is in Trinidad afgehandel. Die Windies het met 226 lopies geseëvier.
  • Suid-Afrika se vroue het hul eerste Eendagwedstryd teen Engeland met sewe paaltjies gewen.

Sokker

  • Fifa se Wêreldbekertoernooi begin Donderdag in Rusland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk ·

Die skok nuus van die week – Erasmus laat spelers uit sy groep uit, maar hou hou Die Ellende in die span, wat sy swakpunt op middelveld verdediging IS en WAS en hy hou wragtag vir Jantjies was in sy twee minute op die veld ‘n Engelsman side step en dit terwyl hy veronderstel is om die Engelsman te lak!!??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.