Vandag se sportnuus

Sokker

  • Fifa se Wêreldbekertoernooi skop vandag om 17:00 in Rusland af. Die gasheerland, Rusland, speel teen Saoedi-Arabië. Die eerste groot tweestryd van die toernooi word reeds môre gespeel wanneer een van die gunstelinge, Spanje, teen buurman Portugal uitdraf. Intussen is Spanje se afrigter gister tydens ʼn skokaankondiging afgedank.

Vrydag

Egipte 14:00 Uruguay
Marokko 17:00 Iran
Portugal 20:00 Spanje

  • Die VSA, Kanada en Mexico is gister gesamentlik aangewys as die aanbieders van die 2026-Wêreldbekertoernooi. 

Gholf

  • Die Amerikaanse Ope begin vandag op Shinnecock Hills in New York. Dit was op die baan waar Retief Goosen in 2004 sy tweede Ope gewen het. Die Suid-Afrikaners wat die toernooi al kon wen, is Gary Player, Ernie Els (1994 en 1997) en Retief Goosen (2001 en 2004). Twaalf voormalige kampioene sal in aksie wees. Die toernooi spog met ʼn prysgeld van nagenoeg R160 miljoen. 

Bokrugby

  • Die Springbokspan wat Saterdag in die tweede toets teen Engeland in Bloemfontein speel, word vandag bekend gemaak. Afrigter Rassie Erasmus het reeds aangedui dat daar veranderings aangebring gaan word aan die span wat in die eerste toets die Engelse geklop het. Die afskop is Saterdag om 17:00.

Junior Bokke

  • Die Wêreld-o.20-kampioenskap se eindstryd word komende Sondag gespeel. Frankryk en Engeland sal sake uitspook om die goue medalje. Suid-Afrika sal op sy beurt teen Nieu-Seeland speel vir die bronsmedalje. 

Vrouerugby

  • Ses lande het aangedui dat hulle die 2021-Rugbywêreldbeker vir vroue wil aanbied. Die lande is Australië, Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland, Portugal en Wallis. 

Motorwedrenne

  • Die Moto GP van Catalunya word Sondag in Barcelona gejaag. Marc Marquez het ʼn handige voorsprong op die punteleer.

1 Marc Marquez Repsol Honda 95
2 Valentino Rossi Movistar Yamaha 72
3 Maverick Vinales Movistar Yamaha 67
4 Andrea Dovizioso Ducati Team 66
5 Johann Zarco Monster Yamaha 64
6 Danilo Petrucci Alma Pramac Racing 63
7 Andrea Iannone Team Suzuki Ecstar 60 

Atletiek

  • ASA het ʼn sterk span van 40 atlete aangewys wat by die eerste Atletiekwêreldbeker in Julie in Londen in aksie sal wees. Een atleet van elk van die agt lande sal per item sy land verteenwoordig. Onder die atlete is Akani Simbine, Luvo Manyonga, Caster Semenya, Wenda Nel en Sunette Viljoen. Die ander lande is die VSA, Pole, China, Duitsland, Frankryk, Jamaika en Groot-Brittanje. Die prysgeld waarom meegeding word, is nagenoeg R27 miljoen. 

Driekamp

  • Richard Murray het die eerste Suid-Afrikaner nog geword om ʼn Driekamp-byeenkoms van Olimpiese afstand in die Wêreldreeks te wen. Murray het die oorwinning in Leeds behaal. Die atlete moes 10 km hardloop, 1 500 m swem en 40 km fietsry. 

Krieket

  • Suid-Afrika se vroue speel môre in die derde en finale eendagwedstryd teen Engeland in Canterbury. Die reekstelling is een elk.
  • Engeland het Australië gister met drie paaltjies in die eerste eendagkragmeting op die Ovaal in Londen geklop.
  • Die tweede toets tussen Sri Lanka en die Wes-Indiese Eilande begin vandag.
  • Indië en Afganistan se toets begin ook vandag in Bengaluru.
  • Die voormalige krieketkaptein van Nieu-Seeland, sir Richard Hadlee, is met maagkanker gediagnoseer en het reeds ʼn operasie ondergaan om die gewas te laat verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christa ·

NOU MOET ONS DIE SOKKER WORLD KYK WAT VAN RUGBY DIT MAG ONS NIE SIEN NIE MAAK SOMMER NOU DIE GUPTA CHANNEL TOE DAT ONS RUGBY KAN KYK

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.