Vandag se sportnuus

Sokker

Drie wedstryde is gister in Fifa se Wêreldbeker-toernooi in Rusland gespeel. Al drie wedstryde se eindtellings was 1–0.

Portugal 1–0 Marokko
Uruguay 1–0 Saoedi-Arabië
Iran 0–1 Spanje 

Vandag se bepalings:

Denemarke 14:00 Australië
Frankryk 17:00 Peru
Argentinië 20:00 Kroasië

Bokrugby

  • Die Springbokspan wat die naweek teen Engeland in die derde toets op Nuweland in Kaapstad uitdraf, word vandag bekend gemaak. Daar word verwag dat Rassie Erasmus ʼn paar ander spelers speelkans kan gun en terselfdertyd aan ʼn paar ander ʼn ruskans gaan bied. Engeland is onder groot druk en kon in sy laaste ses wedstryde nog geen oorwinning behaal nie.
  • Die huidige reeks van internasionale wedstryde loop die naweek ten einde.

Bepalings vir Saterdag:

Nieu-Seeland 09:35 Frankryk
Australië 11:55 Ierland
Suid-Afrika 17:05 Engeland
Argentinië 21:40 Skotland

  • Intussen het Sonny Bill Williams van sy besering herstel. Hy sê hy is gretig om die naweek weer vir die All Blacks teen Frankryk uit te draf in die derde toets tussen die twee lande.

Gholf

  • In Europa begin die BMW Internasionale Ope vanoggend in Duitsland. Tien Suid-Afrikaners sal in aksie wees. Onder hulle is Zander Lombard, Justin Walters, Christiaan Bezuidenhout en Ernie Els.
  • In die VSA slaan die spelers vandag af in die Travelers Kampioenskap. Dié toernooi word in Cromwell, Connecticut, afgehandel. Tyrone van Aswegen, Rory Sabbatini en Retief Goosen sal Suid-Afrika verteenwoordig.

Tennis

  • Die week se aksie is by die Queens Klub-toernooi. Gister was daar oorwinnings in die ronde van 16 vir (1) Marin Cilic en (5) Sam Querrey. Die ongekeurde Jeremy Chardy het ook na die kwarteind deurgedring.
  • Intussen het die wêreld se nommereen-vrouespeler, Simona Halep, haar onttrek aan aanstaande week se internasionale toernooi in Eastbourne.

Motorwedrenne

  • Die Formule Een Grand Prix van Frankryk word Sondag gejaag. Die oefenrondes word Vrydag en Saterdag afgehandel terwyl die kwalifisering Saterdagmiddag plaasvind. Die hoofwedren se wegspring is Sondag om 16:10. Net een punt skei Sebastian Vettel en Lewis Hamilton op die punteleer.

Krieket

  • Engeland en Australië se vierde eendagkragmeting word vandag gespeel. Engeland het in die derde wedstryd ʼn splinternuwe wêreldrekord opgestel toe hy 481/6 in 50 boulbeurte aangeteken het. Engeland het reeds die reeks met 3-0 gewen met twee wedstryde wat oorbly.
  • Temba Bavuma is gister aangewys as kaptein van die Highveld Lions vir die 2018-’19-seisoen. Rassie van der Dussen sal die onderkaptein wees.
  • Suid-Afrika se vroue het gister in twee T20-kragmetings teen onderskeidelik Nieu-Seeland en Engeland in Taunton gespeel.

Nieu-Seeland 216/1 (20 bb)
Suid-Afrika 150/6 (20 bb, teiken was 217)

Nieu-Seeland wen met 66 lopies.

Engeland 250/3 (20 bb)
Suid-Afrika 129/6 (20 bb, teiken was 251)

Engeland wen met 121 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.