Vandag se sportnuus

Sokker

  • By Fifa se Wêreldbeker is daar nou net agt spanne oor met 24 spanne wat reeds huis toe is. 
  • Die kwarteind-wedstryde word môre en Saterdag (6 en 7 Julie) gespeel en daar sal weer elke dag twee wedstryde afgehandel word waarna daar net vier spanne sal oorbly vir die halfeindstryd.

Môre

Uruguay 16:00 Frankryk
Brasilië 20:00 België

Saterdag

Engeland 16:00 Swede
Rusland 20:00 Kroasië 

Tennis

  • Die Wimbledon-kampioenskappe het gister sy derde dag beleef. Suid-Afrika se (8) Kevin Anderson het in die tweede ronde teen Andreas Seppi gespeel en Anderson was met twee stelle teen een voor toe spel weens reën gestaak is. Daar was oorwinnings in die tweede ronde vir (1) Roger Federer, (11) Sam Querrey asook (13) Milos Raonic.
  • In die dubbelspel was Suid-Afrika se Raven Klaasen en sy spanmaat Michael Venus gemaklik voor teen Alex Bolt en Lleyton Hewitt toe die reën uitgesak het.
  • In die vroue-enkelspel het (7) Karolina Plíšková vir Victoria Azarenka met 6-3 en 6-3 geklop. Daar was ook tweede ronde-oorwinnings vir (9) Venus Williams asook haar suster (25) Serena Williams. (2) Caroline Wozniacki is egter deur Ekaterina Makarova uitgeskakel.

Rugby

  • In die Superrugby-reeks word daar die komende naweek sewe wedstryde gespeel. Jaco Peyper sal in beheer wees van die Stormers en Sharks se kragmeting in Kaapstad terwyl Egon Seconds die fluitjie in Pretoria sal hanteer in die Bulls- en Jaguares-wedstryd.

Vrydag

Crusaders 9:35 Highlanders
Reds 11:45 Rebels 

Saterdag

Chiefs 7:15 Brumbies
Hurricanes 9:35 Blues
Waratahs 11:45 Sunwolves
Bulls 15:05 Jaguares
Stormers 17:15 Sharks 

Gholf

  • Retief Goosen het dié week vir die Britse Ope op Carnoustie gekwalifiseer. Die toernooi begin op 19 Julie. Goosen het reeds aan 19 Ope-toernooie deelgeneem en hy het agt keer in die toptien geëindig.
  • Hierdie week val die kollig in Europa op die Ierse Ope wat vanoggend begin. Daar sal veertien Suid-Afrikaners afslaan. Dit sluit in Dylan Frittelli, Brandon Stone, Jacques Kruyswijk en Erik van Rooyen. 
  • In Amerika begin die Greenbier Classic in White Sulphur Springs in Wes-Virginië. Tyrone Van Aswegen en Rory Sabbatini sal die Suid-Afrikaanse vlag waai. 

Atletiek

  • Die agtste Diamantliga-byeenkoms word vanaand in Lausanne, Switserland, aangebied. Caster Semenya sal aan die 1 500 m deelneem. In die vroue-verspring sal die deelnemers poog om die eerste keer dié seisoen verder as sewe meter te spring met ʼn toegelate windsterkte. Die byeenkoms begin om 19:10 vanaand en eindig 21:38.

Motorwedrenne

  • Die Britse Formule Een Grand Prix (die tiende wedren van die seisoen) word Sondag op Silverstone gejaag. Mercedes sal hul swak vertoning van verlede naweek wil regstel toe nie een van hul motors die wedren kon voltooi nie. Ferrari en Red Bull het egter uitgeblink. Die oefenrondes begin môre en die kwalifisering sal Saterdag afgehandel word.

Krieket

  • In Harare is die vierde T20-wedstryd in die driehoekige reeks tussen Zimbabwe en Pakistan gespeel. Pakistan het die wedstryd met 7 paaltjies gewen en Zimbabwe daarmee uit die reeks geboender. Vandag speel Australië teen Pakistan in die vyfde kragmeting.
  • Engeland en Indië speel môre in hul tweede T20-wedstryd in Cardiff teen mekaar. Indië het die eerste wedstryd gewen.
  • Die eerste toets tussen die Wes-Indiese Eilande en Bangladesj se eerste dag is gister gespeel. Bangladesj het eerste gekolf en was almal uit vir net 43 lopies. Die Windies is by die telling verby sonder om ʼn paaltjie te verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.