Vandag se sportnuus

Krieket

  • Suid-Afrika het gister in sy enigste T20-wedstryd teen Sri Lanka in Colombo gespeel en ʼn pak slae gekry. Sri Lanka het met drie paaltjies geseëvier met nog 24 balle oor. Die Proteas is vir slegs 98 lopies uitgeboul in 16,4 boulbeurte. Sri Lanka het die teiken van 99 lopies in 16 boulbeurte behaal. Suid-Afrika het daarmee sy laaste drie wedstryde op sy toer deur Sri Lanka verloor. Suid-Afrika het die een dag- reeks gewen maar die toetsreeks en die T20-wedstryd verloor.
  • Die derde toets van vyf tussen Engeland en Indië begin Saterdag op Trent Bridge. Engeland het die eerste twee toetse gewen en loop met 2 – 0 voor in die reeks van vyf toetse. 

Tennis

  • By die Cincinnati Meesters was daar gister oorwinnings vir (2) Roger Federer en (10) Novak Djokovic. (6) Kevin Anderson is vandag in aksie in die ronde van 32 teen Jeremy Chardy.
  • In die vroue-enkelspel het (8) Petra Kvitová vir Serena Williams in drie stelle uitgeskakel. 
  • Intussen het Stan Wawrinka, Svetlana Kuznetsova en Victoria Azarenka uitnodigings ontvang om aan vanjaar se Amerikaanse Ope deel te neem. 

Rugby

  • Die Rugbykampioenskap van 2018 begin komende naweek. Saterdag speel Australië om 11:45 teen Nieu-Seeland. In die tweede wedstryd om 17:05 meet Suid-Afrika in Durban kragte met Argentinië.
  • In die Curriebekerreeks word die eerste wedstryd Vrydag om 17:00 in Mbombela tussen die Pumas en Griekwas gespeel. Die aand om 19:00 sal die Vrystaat teen die Blou Bulle in Bloemfontein op die veld draf.
  • Intussen het agt Lions-spelers hul kontrakte met dié unie verleng. Hulle is Elton Jantjies, Lionel Mapoe, Warren Whiteley, Malcolm Marx, Ross Cronje, Aphiwe Dyantyi, Cyle Brink en Marvin Orie.
  • Die Suid-Afrikaanse skolespan is gister deur Frankryk met 28-21 op die o.18-toernooi in die Kaap geklop. Vroeër die dag was Wallis baas oor Engeland met 26-20. 

Gholf

  • Hierdie week se gholfaksie in Suid-Afrika is op die Zebula-gholflandgoed waar die Vodacom-toernooi môre begin.
  • Op die Europese toer begin die Nordea Meesters ook môre in Gothenburg, Swede.
  • In Amerika slaan die spelers môre af in die Wyndham-kampioenskap in Greensboro.

Motorwedrenne

  • Die Formule Een-reeks asook die Moto GP-reeks het komende naweek ʼn blaaskans. Aanstaande naweek sal die Britse Moto GP op Silverstone plaasvind terwyl die Belgiese Formule Een Grand Prix op die Spa-Francorchamps-baan afgehandel sal word.
  • Fernando Alonso het bekend gemaak dat hy in 2019 Formule Een gaan verruil vir Indy-wedrenne. Die 37-jarige Spanjaard het twee keer die wêreldkampioenskap gewen. 

Hokkie

  • Ná die eerste naweek van wedstryde in die CTM Premierliga in Randburg staan sake só op die punteleer:

Mans

1          Origins Maropeng 7
2          Kilimanjaro Addo Elephants 6
3          Elf Laminates Mapungubwe Mambas 3
4          iWYZE Golden Gate Gladiators 1
5          Garden Route Gazelles 1
6          Pro-Grip Drakensberg Dragons 0 

Vroue

1          Italtile Orange River Rafters 6
2          Tivoli Blyde River Bunters 6
3          Private Property St Lucia Lakers 3
4          TopT Madikwe Rangers 0
5          Ceramic Industries Wineland Wings 0
6          iWYZE Namaqualand Daisies 0 

Sokker

  • In die plaalike Premierliga is daar gisteraand een wedstryd gespeel.

Baroka 1 – 1 Kaizer Chiefs

  • Vanaand speel Orlando Pirates om 19:30 teen Bidvest Wits.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.