Vandag se sportnuus

Rugby

  • Die Springbokke speel Saterdag in die Rugbykampioenskap teen Nieu-Seeland in Wellington. Nigel Owens van Wallis sal die skeidsregter wees.
    • Rassie Erasmus het drie veranderinge aan die Bokke se beginspan gemaak asook een posisionele skuif. Malcolm Marx sal op haker uitdraf terwyl Handré Pollard losskakel sal speel. Lukhanyo Am is buitesenter met Jesse Kriel wat uitskuif na die regtervleuel in die beseerde Makazole Mapimpi se plek. Ross Cronje is die plaasvervanger-skrumskakel.
    • Die All Blacks het 10 veranderinge aan hul beginspan gemaak, asook vyf aan die spelers op die bank. Ryan Crotty, Sam Cane en Rieko Ioane maak hul terugkeer in die beginspan ná hul beserings. Sonny Bill Williams sal op die bank wees. 

Curriebeker

  • Komende naweek word daar weer drie wedstryde gespeel.

Môre

Bulle 19:00 Pumas

Saterdag

Leeus 15:00 Westelike Provinsie
Griekwas 17:15 Vrystaat

Pro14

  • In die Pro14-reeks word daar die naweek sewe wedstryde gespeel. Die twee Suid-Afrikaanse spanne het beide tuiswedstryde wat op hulle wag.

Vrydag

Edinburgh 20:35 Connacht
Munster 20:35 Ospreys

Saterdag

Llanelli Scarlets 18:15 Benetton Treviso
Leinster 18:15 Dragons
Cheetahs 19:30 Glasgow Warriors
Zebre 20:35 Cardiff Blues

Sondag

Kings 14:15 Ulster

Motorwedrenne

  • Die aandag verskuif dié week na die Singapoer Formule Een Grand Prix wat Sondag gejaag word. Intussen is aangekondig dat Kimi Raikkonen Ferrari aan die einde van die seisoen gaan verlaat en aanstaande jaar vir Sauber sal jaag. Charles Leclerc vervang Raikkonen by Ferrari. 

Swem

  • Die tweede been van FINA se Wêreldbeker begin vandag in Doha. Die eerste been is verlede naweek in Rusland aangebied en agt byeenkomsrekords het in die slag gebly. Vanjaar is dit reeds die 30ste aanbieding van dié wêreldbeker-reeks wat in 1988 afgeskop het en met ʼn totale prysgeld van byna R35 miljoen spog.   

Gholf

  • In Europa slaan die spelers vanoggend af in die KLM Ope in Nederland. Van die Suid-Afrikaners wat sal deelneem sluit in Justin Walters, Zander Lombard, Erik van Rooyen en Jaco van Zyl. 
  • In Amerika word die Spelers-kampioenskap (wat net die top-30-spelers op die Fedex-beker insluit) aanstaande week in Atlanta gespeel. 
  • Op die plaaslike front begin die Vodacom-toernooi môre op Arabella. 

Hokkie

  • Suid-Afrika se afrigter van die nasionale vrouespan, Sheldon Rostron, het besluit om nie weer aansoek te doen vir die pos nie. Rostron is in 2015 as hoofafrigter aangestel en het in 57 wedstryde 22 oorwinnings behaal en 10 gelykop-uitslae op sy kerfstok. In 2017 het hy beide die mans- en vrouespanne by die Afrika Nasiesbeker afgerig. 

Krieket

  • Die Protea-spelers sal die eerste twee weke van die nuwe T20-liga, wat op 9 November begin, misloop. Die toernooi duur tot 16 Desember. Die Proteas sal tot en met 17 November in Australië wees vir 3 eendagwedstryde asook ʼn T20-kragmeting. 

Sokker

  • Die Engelse Premierliga word Saterdag voortgesit. Op die punteleer is Liverpool die voorlopers.

1 Liverpool 12
2 Chelsea 12
3 Watford 12
4 Manchester City 10
5 Tottenham Hotspur 9
6 AFC Bournemouth 7
7 Everton 6
8 Leicester City 6
9 Arsenal 6
10 Manchester United 6

  • Suid-Afrika het hul openingswedstryd in die Cosafa Vroue-kampioenskap teen Madagaskar met  2-1 in Nelson Mandela-baai gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.