Vandag se sportnuus

Rugby

  • Die spanne vir ronde vyf van die Rugbykampioenskap word vandag bekend gemaak. Die groot vraag in die Springbokkamp is wie losskakel gaan speel en wie die senterpaar sal wees. 

Die All Blacks sal sonder hul kaptein, Kieran Read, teen Argentinië op die veld draf. Read se rug word beskerm na sy operasie verlede jaar, maar hy sal wel na Suid-Afrika reis vir die stryd teen die Bokke aanstaande week.   

Bepalings:

Saterdag 29 September

Suid-Afrika 17:05 Australië (Nelson Mandela Baai Stadion)

Sondag

Argentinië 00:40 Nieu-Seeland 

Curriebeker

  • Net een wedstryd word die naweek in die Curriebeker-reeks afgehandel. Saterdag om 14:00 speel die Westelike Provinsie teen die Sharks op Nuweland in Kaapstad.

Pro14

  • Beide Suid-Afrikaanse spanne is dié naweek in die buiteland in aksie.

Vrydag

Cardiff Blues 20:35 Cheetahs

Saterdag

Llanelli Scarlets 19:30 Kings 

Gholf

  • Die 2018 Ryderbeker se openingseremonie word vanmiddag aangebied. Die spanne van Europa en Amerika pak mekaar op die Le Golf National in Frankryk. Die formaat van die kompetisie lyk só:
    • Môre word daar 4 beurtspel-wedstryde en dan 4 beterbal-wedstryde (met twee spelers van elke span per wedstryd) afgehandel.
    • Saterdag word dieselfde formaat as Vrydag s’n herhaal.
    • Sondag word daar 12 individuele kragmetings afgehandel.

Die totale aantal wedstryde is dus 28. Die eerste span wat 14,5 wedstryde wen sal as die wenner gekroon word. 

  • In die Sonskynreeks slaan die spelers vandag af in die Vodacom-toernooi op St. Francis Links. Van die bekendes wat hulle stokke gaan swaai sluit in Jean Hugo, Jaco Ahlers, Daniel van Tonder en Neil Schietekat. 

Tennis

  • Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris het gister in die tweede ronde van die Chengdu Ope in China pak gekry. Bernard Tomic het hom in drie stelle uitgeskakel. 

Motorwedrenne

  • Die aandag verskuif dié week na die Russiese Formule Een Grand Prix (wat die sestiende wedren van die seisoen is) wat Sondag in Sochi gejaag word. Die oefenrondes begin môre terwyl die kwalifisering Saterdag afgehandel word. Die wedren begin Sondag om 13:10. 

Swem

  • Die derde been van Fina se Wêreldbeker begin môre in Eindhoven en duur tot Sondag. 
  • Intussen het een van Suid-Afrika se swemsterre oor baie jare, Cameron van der Burgh, besluit om sy lewe in Londen voort te sit. 

Krieket

  • KSA het gister sy registrasie oopgestel vir plaaslike en oorsese spelers om te registreer vir die nuwe T20-Liga. Die toernooi begin op 9 November en eindig op 16 Desember. 
  • Die Proteas se Eendag-reeks teen Zimbabwe begin Sondag in Kimberley. Die twee lande sal in drie eendagwedstryde en in drie T20-kragmetings skouers skuur. 
  • Die 2018 seisoen se nuwe Vierdag-reeks het gister begin. Die Titans speel teen die Dolphins op SuperSport Park. Die Dolphins het die loot gewen en eerste gekolf. BS Makhanya het 86 lopies van 156 balle gemoker en sy span gehelp om 269 lopies aan te teken. Alfred Mothoa het 5 paaltjies vir 55 lopies platgetrek. Teen uitskeityd was die Titans op 9/1. 
  • Suid-Afrika se vroue speel môre in Bridgetown in hul tweede T20-wedstryd teen die Windies. Die Windies het die eerste van vyf wedstryde gewen. 

Netbal

  • Die Varsity-reeks se halfeindstryde word op 1 Oktober gespeel.

Tuks 17:00 Madibaz
Kovsies 19:00 Maties 

Sokker

  • In die plaaslike Premierliga is daar gisteraand een wedstryd gespeel.

Baroka 0 – 0 Free State Stars

  • Die eindstryd van die MTN8-kompetisie word Saterdag afgehandel. Die spanne van SuperSport United en Cape Town City sal om 19:00 swaarde kruis in die Moses Mabhida Stadion in Durban.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stefan ·

Ek lees vanoggend dat Pierre Schoeman alweer met n rooikaart gestraf is agv intoelaatbare spel. Eers byt hy, nou doen hy weer iets verkeerd. So baie talent, so min dissipline. Dalk is dit beter dat hy landuit is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.