Vandag se sportnuus

Cameron van der Burgh met sy goue medalje. Foto: (AP Photo/Ng Han Guan)

Swem

  • FINA se Kortbad-wêreldkampioenskap het gister in China ten einde geloop. Span Suid-Afrika het sewe medaljes (drie goud, twee silwer en twee brons) ingeoes. Hulle het ook drie Afrika-rekords asook twee byeenkomsrekords opgestel.
    • Cameron van der Burgh het sy loopbaan op briljante wyse afgesluit deur die goue medalje in die 50 m‑borsslag in te palm. Sy wentyd was 25.41 sekondes wat ook ʼn nuwe byeenkomsrekord is. Vroeër verlede week het Van der Burgh goud in die 100 m‑borsslag gewen en ook sy uittrede uit swem aangekondig.
    • Chad le Clos het gister die bronsmedalje in die 100 m‑vryslag gewen. Le Clos het vroeër die week die 100 m‑vlinderslag in 48.50 sekondes gewen. Hy is ook as die beste manswemmer van die byeenkoms aangewys met sy vier medaljes.

Gholf

  • Die 2018 Alfred Dunhill-kampioenskap het gister op Leopard Creek in Mpumalanga ten einde geloop en die toernooi is deur oorsese spelers oorheers. Dié toernooi, met ʼn totale prysgeld van R23 miljoen, is deur David Lipsky (VSA) met twee houe gewen en hy het meer as R3,7 miljoen in sy sak gesteek. Uiteindelik was daar net een Suid-Afrikaner onder die top‑ses spelers op die voorloperbord. Dit was Zander Lombard wat gesamentlik derde geëindig het.

Finale voorloperbord:

1 David Lipsky -14

2 David Drysdale -12

3 Zander Lombard -11

Scott Jamieson -11

5 Oliver Wilson -8

Ben Evans -8

7 Niklas Lemke -7

   Louis Oosthuizen -7

9 Pablo Larrazabal -6

   Oliver Bekker -6

Krieket

  • Die eerste toets tussen Suid-Afrika en Pakistan begin oor net meer as ʼn week. Die eerste van drie toetse sal op 26 Desember in Centurion in aanvang neem.
  • Dit is dag vier van die tweede toets tussen Australië en Indië in Perth.

Australië 326 & 142/4 (57 bb)

Indië 283

Australië is met 186 lopies voor met 6 paaltjies staande.

In Wellington is dit dag drie van die eerste toets tussen Nieu-Seeland en Sri Lanka. Teen teetyd het Nieu-Seeland stewig gestaan.

Sri Lanka 282

Nieu-Seeland 509/6 (142 bb)

Nieu-Seeland loop met 227 lopies voor met 4 paaltjies staande.

  • Bangladesj en die Windies se derde en beslissende eendagkragmeting is afgehandel. Bangladesj het dié kragmeting met 8 paaltjies gewen (met 69 balle oor) en die reeks met 2–1 ingepalm.
    • Dié twee spanne se T20-reeks begin vandag.
  • Die Mzansi Superliga se eindstryd is gister tussen die Cape Town Blitz en die Jozi Stars op Nuweland in Kaapstad gespeel.
    • Die Cape Town Blitz het op ʼn sonskyndag voor ʼn volgepakte Nuweland op die agtervoet begin nadat hulle die loot gewen het en eerste gekolf het. Janneman Malan kon weens ongesteldheid nie speel nie en hulle sterkolwer, Quinton de Kock, het vroeg sy paaltjie vir net 5 lopies verloor. Die Blitz kon net 113/7 in hul 20 boulbeurte op die telbord plaas.
    • In die jaagtog om die teiken van 114 te bereik het die Jozi Stars vroeg hul eerste paaltjie verloor (13/1) maar daarna gemaklik die teiken gehaal om met 8 paaltjies te seëvier. Rassie van der Dussen het sy vierde vyftigtal van die kompetisie aangeteken (58 lopies nie uit nie) en Reeza Hendricks het 33 lopies bygedra.
    • Die kampioenspan, die Jozi Stars, het R7 miljoen verdien en die naaswenners, die Cape Town Blitz, R2,5 miljoen.
  • Die 18-jarige Indiese snelbouler, Rex Singh, het die naweek sy naam in die rekordboeke geskryf toe hy 10 paaltjies in een kolfbeurt vir slegs 11 lopies in 9.5 boulbeurte platgetrek het. Rex speel in die Indiese plaaslike liga.

Hokkie

  • By die mans se Wêreldbekertoernooi in Indië is die twee halfeindstryde Saterdag gespeel.

België 6–0 Engeland

Australië 2–3 Nederland

  • In gister se eindstryd het België sy buurman, Nederland, met 3–2 in ʼn doeluitskietstryd geklop om as wêreldkampioen gekroon te word.
  • Suid-Afrika se vrouespan is in hul tweede kragmeting in Kaapstad deur die Internasionale Uitnodigingspan met 5–0 geklop. Die eerste wedstryd het met drie elk gelykop geëindig. Die derde en vierde wedstryde word môre en Woensdag gespeel.

Sokker

  • In die Engelse Premierliga is gister drie wedstryde gespeel.

Southampton 3–2 Arsenal

Brighton & Hove Albion 1–2 Chelsea

Liverpool 3–1 Manchester United

  • In die plaaslike Premierliga is een wedstryd gister afgehandel.

Baroka Bidvest 1–2 Wits

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.