Vandag se sportnuus

Giniel de Villiers van Suid-Afrika en sy medebestuurder, Dirk Von Zitzewitz van Duitsland, jaag in hul Toyota gedurende die tweede skof van die Dakar-tydren in Peru (8 Januarie 2019). Foto: Ricardo Mazalan/AP

Motorwedrenne

  • Die 41ste Dakar-tydren se tweede skof is gister in Peru gejaag.
    • Giniel de Villiers van Suid-Afrika het in sy Toyota vierde in die motorafdeling geëindig, wat genoegsaam was om aan hom die algehele voortou in die tydren te gee. Bernhard ten Brinke, ook in ʼn Toyota, beklee die tweede plek. Nasser Al-Attiyah het teruggesak na die agtste posisie.
    • In die motorfietsafdeling is Joan Barreda Bort steeds die voorloper op sy Honda. 

Tennis

  • Die verdedigende kampioen, Angelique Kerber, het by die internasionale toernooi in Sydney die derde ronde bereik. Kerber het vir Camila Giorgi met 7-6 en 6-2 afgestof. 

Rugby

  • Dit lyk of Wallis se heelagter, Leigh Halfpenny, die begin van die Sesnasies-toernooi gaan misloop weens harsingskudding. 

Sunette Viljoen. Foto: AP Photo/Dita Alangkara

Atletiek

  • Die spiesgooier, Sunette Viljoen, het aangekondig dat sy voortaan by Tukkies sal voorberei vir deelname op die atletiekbaan. Sunette het die afgelope 16 jaar onder haar gewese afrigter, Terseus Liebenberg, verskeie wêreldgehalte-prestasies gelewer. Sy het silwer by die Rio Olimpiese Spele gewen en gaan poog om aan haar vyfde Olimpiese Spele agtereenvolgens in 2020 in Japan deel te neem. 

Krieket

  • Die Proteas spog nou met twee boulers in die topdrie op die wêreldranglys vir toetsboulers. Hulle is Kagiso Rabada en Vernon Philander wat onderskeidelik eerste en derde is. Suid-Afrika se twee openingskolwers, Dean Elgar (8ste) en Aiden Markram (10de), bevind hulle onder die top-10 kolwers op die toetsranglys.
  • Nieu-Seeland het die derde en laaste eendagwedstryd teen Sri Lanka in Nelson gemaklik met 115 lopies gewen. Daarmee wen hulle die reeks met 3-0.

Nieu-Seeland 364/4
Sri Lanka 249

  • Kagiso Rabada. Foto: AP Photo/Michael Sheehan

    Die Indiese Premierliga sal steeds vanjaar in Indië gespeel word ondanks die verkiesings in die land. Suid-Afrika is as ʼn alternatief oorweeg.

  • In die plaaslike meerdagreeks is die Cobras steeds die voorlopers op die punteleer ná afloop van sewe wedstryde wat voltooi is. Die volgende wedstryde begin Maandag 14 Januarie.

1 Cape Cobras 140
2 Highveld Lions 120
3 Warriors 94
4 Knights 91
5 Titans 90
6 Dolphins 71

Gholf

  • Ierland se Padraig Harrington is gister aangewys as die kaptein van Europa se span vir die 2020-Ryderbeker. Harrington, wat drie majors gewen en in ses agtereenvolgende Ryderbekertoernooie gespeel het, was verlede jaar die onderkaptein in Frankryk. 
  • Vandeesweek val die klem op die Sony Ope wat in Honolulu, Hawaii, gespeel word. Dié toernooi spog met ʼn prysgeld van meer as R15 miljoen en begin môre. 

Terence Parkin. Foto: Gameplan Media (ANA)

Multisport

  • Die Olimpiese swemmer, Terence Parkin, het bevestig dat hy sy 12 dae lange sportuitdaging (oor 1 120 km) in Februarie met die Dusi-kanomarathon gaan afsluit. Die Dusi-been word voorafgegaan deur onder meer ʼn fietsrit oor vyf dae en 8 myl-swem in die Midmardam. 

Sokker

  • Egipte is aangewys as die gasheerland vir die Afcon-toernooi van 2019. Die toernooi word in Junie en Julie gespeel.
  • In die Engelse Ligabeker is een wedstryd gisteraand gespeel.

Tottenham Hotspur 1–0 Chelsea

  • In die plaaslike Premierliga is gister een wedstryd gespeel.

Orlando Pirates 4–2 Chippa United

Vandag word twee wedstryde afgehandel.

Maritzburg United 19:30 Free State Stars
Bidvest Wits 19:30 Kaizer Chiefs

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Grens ·

Dit maak my darm lekker trots om ‘n Hilux te ry as ek hierdie manne sien presteer in die Dakar. Interresant om te sien daai “Mini’s” staan amper hoër as die Hilux.

IK ·

Dit laat my dink aan die Hilux wat van voor aan my kant vd pad aangekom het teen ‘n sperstreep naby Nigel en ek doodeenvoudig moes stilhou op die pad en hy op die skouer vd pad om my gejaag het. Dalk ook ‘n ‘Dakar’?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.