Vandag se sportnuus

Handré Pollard. Foto: GB Jordaan.

Rugby:

  • Dit is bevestig dat die Bulls se kaptein, Handré Pollard, die unie ná afloop van die Wêreldbeker in Japan vaarwel sal roep. Die Springbok-losskakel sal na verwagting R20 miljoen per seisoen by die Franse klub Montpellier verdien.

Morné Steyn het wel ’n kontrak met die Pretoriase span onderteken wat hom tot 2021 in Bul-land sal hou.

Ander Bulls-spelers wat hul heil oorsee gaan soek, is Jesse Kriel (Japan) en Lood de Jager (Sale Sharks).

  • Intussen sal die Cheetah-breier, Franco Smith, van 1 Januarie 2020 die Italiaanse nasionale span afrig. Die Vrystaatse span is dus op die uitkyk vir ’n nuwe afrigter.
  • Met Damian McKenzie op die krukkelys het sommige All Black-ondersteuners ’n noodoproep na Daniel Carter gestuur vir die komende Wêreldbekertoernooi in Japan. Die 37-jarige Carter het egter onlangs ’n nekoperasie ondergaan en sal nie vir die kampioenskap beskikbaar wees nie.

Krieket:

  • Engeland is die eendagkrieketspan om die klop. Die Britte het gister ’n wenteiken van 359 suksesvol teen Pakistan gejaag. Jason Roy (76) en Jonny Bairstow (128) het die grondslag vir Engeland se sege van ses paaltjies gelê.

Die Proteas speel op 30 Mei in die openingswedstryd van die Wêreldbeker teen die Engelse.

Serena Williams. Foto: Facebook.

Tennis:

  • Die 37-jarige Serena Williams het haarself aan die Italiaanse Ope onttrek nadat ʼn kniebesering haar weer begin pla het. Sy is nou in ’n wedloop teen tyd gewikkel om gereed te wees vir die Franse Ope op Roland Garros.
  • Dan is Alexander Zverev deur Italië se Mateo Berrettini uitgeskakel. Die telling was 7-5, 7-5 in die Italianer se guns. Die voormalige Franse Ope-kampioen, Stan Wawrinka, het ook in die stof gebyt toe hy deur België se David Goffin verslaan is. Die telling was 4-6, 6-0 en 6-2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.