Vandag se sportnuus

Dale Steyn. Foto: Cricinfo.

Krieket:

  • Vir Dale Steyn is die Wêreldbeker-kriekettoernooi iets van die verlede. Die 36-jarige snelbouler het die eerste twee wedstryde teen Engeland en Bangladesj weens ’n skouerbesering misgeloop.

In ’n verklaring op die vooraand van die Proteas se wedstryd teen Indië in Southampton, het Krieket Suid-Afrika gesê dat Steyn nie in enige van die komende wedstryde sal speel nie. Hy word deur die linkshandige Beuran Hendricks vervang.

“Dale het nie op enige behandeling gereageer nie en sal nie vir die afsienbare toekoms kan boul nie,” lui die verklaring.

Volgens Protea-kaptein, Faf du Plessis, het Steyn sy beste gegee om fiks te wees vir die internasionale toernooi.

“Dit was ’n moeilike twee jaar vir Dale en ons moet nou daar wees vir hom. Hy het ongelooflik hard gewerk om fiks te wees vir die toernooi, sy laaste Wêreldbeker,” het Du Plessis gesê.

Steyn het ’n paar jaar gelede sy skouer gebreek en is sedertdien in en uit die span weens fiksheidsredes.

Hy het goed vertoon sedert sy terugkeer aan die einde van 2018, maar die beseringspook het weer sy kop by vanjaar se IPL uitgesteek. Hy het net twee wedstryde vir die Royal Challengers Bangalore gespeel.

“Ongelukkig het die besering daar in die IPL plaasgevind. As hy nie as ’n plaasvervanger toe gekies is nie, wie weet waar hy nou sou gewees het.”

  • Die Proteas speel vandag teen Indië sonder Steyn en Lungi Ngidi. Hashim Amla, wat deur Jofra Archer in die wedstryd teen Engeland teen die kop geboul is, is egter gereed om te speel.

Switserland se Stan Wawrinka dien teen Switserland se Roger Federer gedurende die kwarteindronde-wedstryd van die Franse Ope. (Foto: Michel Euler)

Tennis:

  • Daar wag ’n watertandontmoeting in die halfeindstryd van die Franse Ope, met Roger Federer en Rafael Nadal wat mekaar die stryd sal aansê.

Die 37-jarige Federer het gister met Stan Wawrinka afgereken. Die telling was 7-6, 4-6, 7-6 en 6-4.

Daarteenoor het Nadal betreklik maklik met Japan se Kei Nishikori klaargespeel. Hy het die wedstryd met 6-1, 6-1 en 6-3 gewen.

  • Dan is Johanna Konta die eerste Britse vrou in 36 jaar om vir die halfeindstryd op Roland Garros te kwalifiseer. Sy het Sloane Stephens met 6-1 en 6-4 gewen.

Rugby:

  • Die Junior Springbokke het hul openingswedstryd by die Wêreldbeker teen Skotland gewen. Die telling was 43-19 in die jong Bokkies se guns.

Handré Pollard sal beskikbaar wees vir die Bulls se laaste toerwedstryd teen die Highlanders in Dunedin. Die Bok-losskakel het vroeër met ’n kuitbesering gesukkel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kol

Steyn uit – SA ook!

LOSKOP

Steyn moes nie eers op die vliegtuig Engeland toe gewees het nie .Is soos warren Whiteley
speel een game en is dan vir 6 uit

Herman

Hoe op aarde kon KSA die stokoud beseerde speler kies – hy kon in die laaste 2 jaar nie 2 weddtryde na mekaar speel! !!!!